SUID-KAAP NUUS - Die Griffons-losskakel, George Whitehead, het Vrydagaand die SWD Arende gekelder in die Curriebeker se Eersteliga-wedstryd op Outeniquapark.
Die skerpskutter het 18 waardevolle punte aangeteken met sy skoen in sy span se oorwinning van 33-24. Rustyd was die Arende nog met 21-12 voor gewees.
Die Arende het 'n groot terugslag gekry toe hul slot, Schalk Oelofse, die veld in die 16de minuut van die eerste helfte moes verlaat met 'n kniebesering. Oelofse is vervang deur Grant le Roux.
Die skeidsregter, Egon Seconds van die Westelike Provinsie, wat in die nat omstandighede die wedstryd goed hanteer het, het vir Vince Maruping (flank) van die besoekers en Charles Radebe (regtervleuel) van die Arende met geelkaarte van die veld gestuur.
Die Arende het die wedstryd op 'n hoë noot afgeskop toe hul wakker agtsteman, Christo du Plessis, in die derde minuut van die wedstryd oor is vir 'n drie. Johan Steyn (skrumskakel) en Mark Pretorius (haker en kaptein) het ook in die eerste helfte gaan druk.
"In die eerste helfte het ons baie goed gespeel en die wedstryd in ons hande gehad. In die tweede helfte kon ons nie afrond nie. Daar was te veel hanteerfoute en die dissipline was ook swak gewees. Daar is baie individuele foute begaan. Ons verdediging was ook nie goed nie." het Abe Davids, hoofafrigter van die Arende, aan die George Herald gesê.
Die Arende se lostrio, Andisa Ntsila, Thorleif Halvorsen en Christo du Plessis, Mark Pretorius (haker en kaptein), Lodewyk Uys (slot) en Johan Steyn (skrumskakel) het die oog gevang.
Puntemakers:
Griffons 33 (12). Drieë: Boela Abrahams (skrumskakel), Reinardt Erwee (heelagter), Strafdrie. Doelskoppe: George Whitehead (losskakel, 3) Strafdoele: Whitehead (4).
SWD Arende 27 (21).
Drieë: Christo du Plessis (agtsteman), Johan Steyn (skrumskakel), Mark Pretorius (haker en kaptein). Doelskoppe: Hansie Graaf (losskakel, 3). Strafdoel: Graaf
Mark Pretorius, kaptein en haker van die Arende, het oudergewoonte sy hart uitgespeel en ook 'n drie gedruk.
'Ons bring jou die nuutste Karoo, Tuinroete, Hessequa nuus'