SUID-KAAP NUUS - Rangers van Albertinia het Saterdag die Seagulls van Melkhoutsfontein se vlerke behoorlik stomp afgeknip in 'n SWD President Langebergstreek rugbywedstryd.
Albertinia het die wedstryd met 34-16 gewen, maar die spel was glad nie 'n wedstryd om oor huistoe te skryf nie.
Geniepsige vuilspel deur beide spanne het die skare nie waarde vir geld gegee nie. Rangers kon die telling die hoogte ingestuur het, maar hulle afronding en balhantering deur die agterspelers was nie na wense nie. Rangers kon net vyf drieë teen die Melkhoutsfonteiners druk.
Driedrukkers van Rangers se A-span was Conray Mathiso, Charlton Pietersen, Rejovaan Fortuin, Bronwin Vaaltyn en Gordon Ntozini.
Seagulls se puntemakers was die losskakel Wimpie Adams met 'n drie, wat verdoel is deur die heelagter, Wilhelm Solomons. Reagon Riddles het met drie strafskoppe geslaag.
B-span
In die B-span se wedstryd was dit weer die manne van Albertinia wat pragtige hardlooprugby gespeel het. Hulle het die wedstryd gemaklik met 34-14 gewen. Afrigters Shaun Saayman en Adam Pietersen van Rangers se B-span doen wondere met dié jonspan. Dit was hulle derde daaropvolgende wedstryd wat hulle oortuigend gewen het.
FOTO'S: HEINRICH FORTUIN
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Graaff-Reinet, Hessequa nuus'