SUID-KAAP NUUS - 'n Iedere en 'n elk wat betrokke is by SWD-rugby, sal erken dat die prul wat dié unie se spogspan verlede Vrydagmiddag in Welkom teen die Griffons as rugby opgedis het, die handjievol toeskouers (wat dit dalk dopgehou het) na sokker sal wegjaag.
Op 'n skoolrapport sal die Arende gelukkig wees om 'n E-simbool te kry - genoeg om deesdae gr.12 lag-lag deur te seil, maar ligjare ver om binnekort in die Curriebeker se Premierliga te speel.
Bowenal is dié getjommel nog op televisie gebeeldsend.
Goed, die pad Welkom toe was geen gemaklike uitstappie nie en die lugdruk het die Arende gevang. Maar dis die dorings op jou pad wat jy moet oorkom as jy hogere aspirasies het.
En die Griffons is op hul tuisveld geen hierjyspan nie. Dis 'n goed gebalanseerde eenheid wat hul netjiese aanvalshoeke stewig onder die knie het.
Dus was die Arende van meet af aan op die agtervoet met die tuisspan se voorhoede warm en sy agterlyn giftig op die aanval én verdediging. Hulle het dus nie veel nodig gehad om die telbord aan die rol te hou terwyl die Arende soos afkophoenders moes walgooi vir 'n vale.
Die besoekers kon net so hier en daar balbesit vir 'n rukkie behou, maar onbeholpe hantering, swak aangeë en hul achilleshiel - swak dissipline - het mooi in die Giffons se hande gespeel en gehelp dat hulle die Arende redelik maklik met 30-14 kon klop.
Daar's darem een pluspunt: in die laaste kwartier het die Arende desperaat aangeval en kon hulle 'n klompie oortuigende fases opstapel met die tuisspan wat toe moes walgooi vir 'n vale. Maar dit was, helaas, te min te laat.
Môreaand op Outeniquapark lê Operasie Regruk vir die Arende voor wanneer hulle die Valke aandurf. Wie gaan hier die hoogste vlieg? Die spanne was met druktyd nog nie bekend nie. Die afskop is om 19:00.
ARTIKEL: HUGO REDELINGHUYS, GEORGE HERALD-SPORTREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessqua nuus'