SUID-KAAP NUUS - Die verloorslag teen die OP-Kings verlede Vrydag op Outeniquapark was nie die ideale afskop tot die Arende se veldtog in die SuperSport-uitdaagreeks nie, maar dis geensins rede om nou so vroeg in die seisoen in sak en as te gaan sit nie.
Die OP-Kings het uiteindelik met 34-29 gewen, maar moes walgooi vir 'n vale teen die tuisspan se verbete terugvegpoging toe hulle 26 punte opgestapel het. En dis juis dié manier waarop die Arende in die tweede helfte teruggeveg het om 'n rustyd-agterstand van 24-3 in te haal, wat die afrigtingspan moed kan laat skep vir die res van die seisoen.
Dat die Arende vooraf effens onbekook sou vertoon, was te wagte en kan toegeskryf word aan 'n flouerige voorseisoense voorbereiding. Die span was erg verroes, het platvoets gespeel en duidelik wedstrydfiksheid en -skerpheid kortgekom. Verkeerde besluite en swak dissipline, met twee geelkaarte op die koop toe, het die Baaise besoekers se taak aansienlik vergemaklik.
Rynhard van As, instaan-afrigter van die Arende, sê die nederlaag het hom met gemengde gevoelens gelaat. "Uiteraard was ek teleurgesteld met die verloor, maar ek is terselfdertyd trots op die manne se terugvegpoging. Dis dié tipe ingesteldheid wat ons selfvertroue 'n groot hupstoot gee."
Hy het toegegee verkeerde besluite het die Arende op die einde gekelder.
"Maar ons is vasbeslote om vir die glips te vergoed met ons volgende kragmeting teen die Grens-Bulldogs Vrydagaand in Oos-Londen."
Van As het die vertroue in sy spelers behou deur feitlik dieselfde beginspan vir die stryd te kies. Slegs een gedwonge verandering is aangebring met Qaide Langeveldt wat die beseerde Martin du Toit op losskakel vervang. Du Toit het sy kakebeen gebreek teen die OP-Kings en sal vir 'n wyle nie kan speel nie.
Op die plaasvervangerbank is ook drie veranderinge aangebring.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'