ABERDEEN SPORTNUUS - Die uiters suksesvolle Desmond Coetzee 7's-rugbytoernooi het op 15 Oktober in Aberdeen plaasgevind.
Wat die toernooi meer uitsonderlik maak is dat dit die breinkind en organisering van 'n 27-jarige plaaslike jongman is.
Emmanuel Joy is amper te skaam om meer te vertel van hierdie groot geleentheid wat hy self gefinansier het.
"Ek wou dit al lankal vir ons dorp se inwoners doen, maar Covid het mos gebeur. Ons het te veel verkeerde dinge waarmee jongmense besig is. Sport gee vir mense 'n doel en dit bring dissipline in 'n mens se lewe. Ons het baie rugbyspelers en hope talent, maar min geleenthede," gesels Joy.
Joy het die hele toernooi se beplanning alleen gedoen en 'n begroting opgestel. Hopeloos té trots om te vra vir geld, het hy 'n persoonlike lening aangegaan om die toernooi te finansier.
"Ek het maar net gehoop en geglo dat genoeg mense sou kom sodat die toegangsfooi genoeg sou wees om die lening terug te betaal," sê Joy met 'n verleë glimlag.
Eers toe hy die volledige beplanning voltooi het, het hy sy "staatmakers" genader en vertel van sy idee. Romario Saaiman (kaptein: Black Super Saiyans), Rendio Cloete (kaptein: Green Mambas), Curtley Kameel (kaptein: Blue Whales), en Wayne Heynse (kaptein: Red Fire Steppers) het nie op hulle laat wag nie en heelhartig meegedoen aan die finale reëlings en saamstel van spanne.
Alhoewel daar tydens die openingsrede geen melding van Joy gemaak is nie, het 'n oorweldigende verrassing vir hom aan die einde van die dag gewag. Aan die einde van die toernooi het wyle Desmond Coetzee se weduwee Valerie, en sy dogter Johnise, Coetzee se OP-rugbybaadjie en das aan Joy oorhandig as blyk van waardering vir die reël van die toernooi ter ere van Coetzee.
"Dit is so 'n groot eer en voorreg om hierdie in my hande te hou," sê Joy. Wat hy veral van Coetzee onthou, waardeer en in sy eie lewe wil toepas, is die moeite wat Coetzee met rugbyspelers gedoen het en hoeveel hy vir die plaaslike gemeenskap gedoen het.
"Vir hom het alles oor ontwikkeling gegaan. Elke jongmens wat aan sport deelneem, het alreeds 'n doel en dissipline en vandaar kan 'n mens net verder ontwikkel."
Joy is vasberade om vanjaar se toernooi 'n jaarlikse instelling te maak en hoop om soortgelyke toernooie vir sokker en krieket ook te reël in die toekoms.
Emmanuel Joy met die das en baadjie van wyle Desmond Coetzee. Foto: Alex Lombaard
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'