GRAAFF-REINET NUUS - Die Windpomp Run-halfmarathon, 10km- en 5km-wedlope wat verlede Saterdag in Graaff-Reinet plaasgevind het, gaan beslis as een van die hoogtepunte van die jaar se Karoo-lus Fees onthou word.
Die gewilde wedlope, waarvan die half-marathon aan die voet van Ouberg afskop, deur die Camdeboo Nasionale Park kronkel om by die Botaniese Sportgronde in Graaff-Reinet te eindig, het die jaar 'n allemintige 561 atlete van reg oor Suid-Afrika gelok.
"Ons, as klub, is baie dankbaar oor die groot getal atlete wat die jaar deelgeneem het," meen Elise Steynberg, een van die organiseerders. "Altesaam 445 het die 10km- en 21.1km-wedlope voltooi met nog 146 wat die 5km-pretstap voltooi het," voer sy aan.
Die wenner van die 21.1km-wedloop was Andre Ketchem van die XCEL Atletiekklub. Hy het die wedloop voltooi in 'n fantastiese tyd van 1.05.19.
Kort op sy hakke was Simthembile Swartz van die Nedbank Running Club in die tweede plek met 'n tyd van 1.08.08 en Michael Bester van die Achilles Athletics Club in die derde plek met 'n tyd van 1.12.37
Die wenner onder die vrouens was Mariette Hattingh van die Nedbank Running Club met 'n tyd van 1.35.20. Die tweede vrou oor die wenstreep was Nerida Lubbe van Hartenbos met 'n tyd van 1.37.00, en die derde vrou, Elizma Horne, met 'n tyd van 1.37.52.
Die wenner in die 10km-wedloop was Adriaan Gerwel van die Ikhamva Atletiekklub met 'n tyd van 0.30.31. George Ntshiliza van die Nedbank Running Club het tweede geëindig met 'n tyd van 0.31.38 gevolg deur Brendon Effenaar van dieselfde klub in die derde plek met 'n tyd van 0.33.16.
Die wenner onder die dames in die 10km, was Alicia Cawood van Graaff-Reinet met 'n tyd van 0.42.44.
Die tweede dame oor die wenstreep was Joan Viljoen met 'n tyd van 0.45.19 gevolg deur Naliza van Straaten in die derde plek met 'n tyd van 0.46.14.
"Ons wil die gemeenskap van Graaff-Reinet graag bedank vir hul deelname en ondersteuning. Dit beteken geweldig baie vir die klub en dié wedloop se voortbestaan," aldus Steynberg.
Die Graaff-Reinet Running Club rig dan ook 'n spesiale woord van dank aan diegene wat waterpunte beman het.
Die waterpunt van Montego-personeellede, Kallie Venter, George van Rensburg en Tilana Maré, is as die beste punt op die dag aangewys. Die Desert Springs Spur se waterpunt was ook 'n gunsteling onder deelnemers.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'