GRAAFF-REINET NETBAL NUUS — Hoër Volkskool se jaarlikse interskole-netbalkragmeting teen Gill Kollege van Somerset-Oos het die pas afgelope Saterdag op Gill se bane plaasgevind.
Dié geleentheid word reeds die afgelope vyf jaar aangebied en is daar jaarliks twee bekers op die spel, een vir die algehele wenners van die dag en dan die eerstespan-wisseltrofee.
Aangesien Hoër Volkskool dié jaar as verdedigende kampioene vir Gill die stryd aangesê het, het die eerstespan met hoë verwagting van die skare op die baan op getree.
Na afloop van die verwelkomingseremonie het die eerste fluitjie geblaas.
Die span het met die eerste afgooi so rukkie gevat om hulself te kalmeer voor die eerste doel in Hoër Volkskool se guns gesink het.
Vandaar het die meisies hul ritme gekry en een doel na die ander is gesink. Na die tweede kwart, het Hoër Volkskool 32 - 0 voorgeloop.
Vroeg in die derde kwart, het HVS begin doele afstaan, maar nie genoeg om regtig 'n impak op die eindtelling te hê nie.
Aan die einde van die wedstryd het 'n paar emosionele spelers, afrigters en ouers trots gejuig oor die telling van 40 - 2 in Hoër Volkskool se guns.
"Ons het nie net hoër gespring, vinniger gehardloop en ver agteroor gebuig vir die bal nie, maar ons meisies het dit met 'n glimlag op hulle gesigte gedoen," het fotograaf Sonette Meiring-Crouse na afloop van die wedstryd oor die dag se spel gesê.
Die uitslae van die ander hoërskoolspanne se wedstryde is as volg: Die O.14A-span het 16 - 20 verloor, die O.14B-span het 9 - 7 gewen, die O.16A-span het 26 - 7 gewen, die O.16B-span het 17 - 7 gewen en die tweedespan het 20 - 4 gewen.
HOKKIE EN RUGBY
Die skole het terselftertyd op die hokkie- en rugbyveld ook teen Gill Kollege kragte gemeet. Hoër Volkskool se eerste hokkiespan het hul wedstryd 5 - 0 gewen, terwyl die derdespan 1 - 0 teen Gill se tweedespan geseëvier het.
Op die rugbyveld het die Hoër Volkskool-spelers 'n bietjie swaarder getrek.
Die O.14-span verloor 39 - 14, die O.15's speel 12 elk gelykop, die O.16's wen 40 - 10, die tweedespan verloor 0 - 10 en die eerstespan verloor 28 - 31.
Hoër Volkskool se seëvierende eerste netbalspan: Lara du Plessis (kaptein), Irene Kiewiets (onder-kaptein), Linda Lötter, Marichen Piek, Jonay Koopman, Maryna Nell, Caryn Swartz, Lykita Koeberg, Dehana van der Merwe en Zelmiri Louw. Foto: Sonette Meiring-Crouse.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'