Gallery
KAROO NUUS - Die abnormale hoë watervlak van die Brakrivier, tussen Middelburg en Cradock, het gesorg vir rekordtye in die Brakrivier-uitdaging twee weke gelede en die 22 superfiks roeiers in 12 kano's moes hul roei ken in die vinnige water.
"Die Brakrivier-uitdaging is vir die eerste keer in November 2009 gehou - toe 'n eendaguitdaging. Sewentien roeiers het vir dié heel eerste uitdaging opgedaag," sê James Jordaan, eienaar van Karoo River Rafting, en self 'n kranige roeier.
FOTOGALERY: Opwinding met die Brakrivier-uitdaging
Sedert 2019 word dit oor twee dae gehou en vanjaar was die watervolume ver bo normaal. Gewoonlik word dit in 'n volume van 24 kubieke meter per sekonde gehou, maar vanjaar was dit nader aan 50 kubieke meter per sekonde - 'n baie groter uitdaging.
Die Brakrivier-uitdaging word gereël deur die Visrivier-kanoklub, onder voorsitterskap van Ryan Copeman.
Op dag een word geroei vanaf Karoo River Rafting tot in die Grasrugdam, altesaam 27 km deur talle stroomversnellings en glybane.
Dag twee roei die kanovaarders van die Barodabrug vir 26 km tot in Cradock. Hierdie jaar het hoofsaaklik twee persone per span in tweemankano's (K2) deelgeneem.
"Na dag een het vier spanne 'n kans gestaan om die uitdaging te wen," vertel Herman Marais, voorsitter van die Visrivier-marathon.
Die tweede dag was uiters kompeterend en uiteindelik het Greg Louw, 'n Visrivier-kanomarathonkampioen, en Nathan van den Berg, 'n NMU-student van Gqeberha, as kampioene uit die stryd getree.
Die egpaar, Brandon en Tracey van der Walt was in tweede plek - ook in 'n uitstekende tyd. Brandon het sy ervaring as voormalige wêreldkampioen in sy ouderdomsgroep, behoorlik laat geld.
In die derde plek was Hein van Rooyen en Daniel Meiring, met Barry Lewin en Phillip Smith in vierde plek.
Nuwe rekord
Die eerste vier kano's het binne vyf minute van mekaar klaargemaak en Louw en Van den Berg se wentyd was 3uur en 10min. Hierdie is 'n nuwe rekord wat heel moontlik nooit weer geëwenaar of verbeter sal kan word nie, as gevolg van die hoë spoed en watervlak.
Alle fondse wat die uitdaging insamel gaan na die Visrivier-kanoklub.
Die roeiers se punte oor die twee dae tel vir hul posisie op die ranglys vir CSA (Canoe South Africa).
Kort voor die wegspring op De Keur skarrel almal rond om die kanovaart aan te pak.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'