JANSENVILLE SPORTNUUS - Groot opgewondenheid heers in Jansenville met die vooruitsig van die Angora Motocross Adventure Classic wat hierdie jaar vir die tweede keer aangebied word.
Die geleentheid vind Saterdag 3 September plaas en sal deelnemers van oral na Jansenville lok.
Veldfietswedrenne vind plaas oor natuurlike of gesimuleerde rowwe terreine met talle hindernisse in die roete ingewerk.
"Die enigste vereiste is dat jy 'n motorfiets moet hê en jy moet dit kan ry," deel André Viviers, organiseerder van hierdie uitdaging entoesiasties mee.
"Die ouderdomsgroep van deelnemers is gemiddeld so tussen 30 en 40 jaar oud, maar persone in alle ouderdomsgroepe kan gerus kom deelneem."
Viviers verduidelik dat 230 km se agter-paaie uitgemeet word vir die avontuur. Die roete strek vanaf Jansenville, oor Pearston, Driekopsvlei en Waterford, deur die Majestic Hills (voorheen bekend as Ibamba), oor Rafelskloof en dan agterom langs die Sondagsrivier terug na Jansenville. Vivier voeg by dat hulle hierdie jaar ook 'n 60 km-veldmotorfietsroete (scrambler) saamgestel het. "Die dra van 'n valhelm is eerste prioriteit. Deelnemers word nie daarsonder toegelaat nie," beklemtoon Vivier.
Angora MTB Classic-fietswedren
Vivier noem dat IGEN hierdie jaar as hoofborg optree, maar dat daar natuurlik altyd ruimte is vir meer borge om betrokke te raak.
Jansenville inwoners kan ook uitsien na die 11de Angora MTB Classic-fietswedren wat op Sondag 4 September, vanaf 07:00 by die Jansenville-krieketklub aangebied word.
Die fietswedren sal twee MTB-roetes van 60 km en 120 km onderskeidelik, en 'n pretroete van 25 km, insluit.
Pretdraf
Daar sal ook pretdrafroetes van 5-, 10- en 21 km wees. Die Angora MTB Classic word gereël deur Jansenville en Beyond-toerisme en Leoné Mulder van Huis Welverdiend.
Hierdie jaar se Angora Motocross Adventure Classic sluit 'n 230 km avontuur roete (blou) asook 'n 60 km-veldfietsroete (rooi) in.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'