GRAAFF-REINET SPORT NEWS — Die jaarlikse interskole tussen Volkskool en Union is sekerlik die grootste sportgebeurtenis op die Graaff-Reinet kalender en ‘n hoogtepunt vir alle Volkskool- en Union-leerders.
Te midde van die jaarlikse kragmeting tussen die twee skole, het Hoër Volkskool se hoof, Hennie van Rooyen, 'n spesiale boodskap uitgereik aan die Volkskool-skoolgemeenskap.
"Die oggendluggie byt en die bontblaar aalwyne vlam helder oranje. Hoër Volkskool staan midde van Interskole 2018 en ons bloed bruis deur die are in afwagting op nog ‘n groot gebeurtenis," sê van Rooyen.
"Van heinde en verre kom oudskoliere om te deel in die opgewondenheid en om ou vriendskapsbande weer op te tel en te versterk. Reüniegroepe sien met groot afwagting uit om skoolvriende weer te sien en almal se lief en leed te deel."
"Mag 2018 se interskole teen Union ’n grootste geleentheid vir almal betrokke wees en mag daar in die gees van goeie sportmanskap meegeding word," wens Van Rooyen almal toe.
"My bede as skoolhoof is dat ons Hemelse Vader hierdie geleentheid sal seën en almal betrokke verryk sal wees in hierdie unieke ervaring."
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'