GRAAFF-REINET NUUS - Onder leiding van twee Protea-hokkiespelers, Cornelle Holtzhausen en Jonelke Swanepoel, het Graaff-Reinet se Karoo Hokkieskool onlangs op die Union High astro-bane opkomende hokkiespelers geslyp.
Ina Botha, een van Karoo Hokkieskool se afrigters, was ook deel van die span se hoofafrigters. Provinsiale hokkiespelers Maryke Badenhorst, Arijana Botha, Micela Looch en Karen Reynoldts het ook hul vaardighede na die veld gebring.
"Een van ons doelwitte is om plattelandse kinders ook blootstelling aan die spel te gee, deur uitstekende afrigters na Graaff-Reinet te bring," het Botha gesê.
Die 77 hokkiespelers, waarvan die jongste vier is en die oudste 18, het op 27 en 28 September die fynere tegnieke van die spel geleer.
In 'n afrigters-vertoonwedstryd teen opkomende spelers, is afrigter Cornelle Holtzhausen in beheer teen Misha Newton.
Hiervoor het spelers van so ver as Aberdeen, Cradock, Somerset-Oos, Richmond en Rietbron na Graaff-Reinet gereis. Hulle het, onder andere, gewerk aan hul doelskiettegnieke, geleer hoe om aanvalle te ontwyk, sowel as hoe om effektiewe verdediging te bemeester.
Die volgende soortgelyke afrigtingskliniek word gedurende Februarie volgende jaar in Graaff-Reinet aangebied.
Nikaoli Viljoen het die sportmanskap-toekenning gekry.
Protea verdediger en afrigter Jonelke Swanepoel, saam met Johannes Reynoldts.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'