Gallery
SPORT NUUS - Klein Karoo Dust 4 Glory en Chain Gang Events het die afgelope naweek weer kragte saamgespan om die gewilde en taai Klein Karoo Dust 4 Glory hindernisbaanuitdaging aan te bied.
Wilgewandel-vakansieplaas, waar dié uitdaging plaasgevind het, was 'n miernes van bedrywighede met sowat 600 toeskouers wat die meer as 300 deelnemers aangemoedig het.
Atlete moes verskillende hinderniskategorieë baasraak en indien hul moed hul begewe, moes hulle heelwat uitputtende burpees doen om die oorspronklike uitdaging te vervang.
Van die taaiste uitdagings was die 5 m- houtduikstaanplek waar deelnemers moes afspring tot in die mensgemaakte swembad wat sowat 6 m diep is.
Hier moes die veiligheidsbeamptes en fotograwe sommige kere die atlete (oud en jonk) moed inpraat om die hoogte aan te durf- wat hulle dan na so vyf minute van intense oorweging in elk geval gedoen het. 'n Testament van die algemene gees en deursettingsvermoë van die deelnemers.
Dan was daar ook die 15 m-hardebord wat teen 'n hoek van 90 grade gemonteer is met drie bande aan die onderkant en vyf bande bo-aan die bord as die enigste hulp wat beskikbaar is vir die atlete om bo uit te kom.
FOTOGALERY: Gewilde Dust 4 Glory
Die atlete moes met 'n vinnige sarsie spoed hardloop om momentum te kry om die topbande te bereik as hulle hierdie hindernis wou voltooi. Van die deelnemers kon nie die nodige momentum kry om vooruit te gaan nie, maar gelukkig het spanwerk die oorhand gekry toe deelnemers 'n menslike handketting gevorm het om hulp te verleen aan diegene wat nie die topbande kon haal nie.
Om alles te kroon moes deelnemers hul laaste greintjie energie inspan om die oorblywende 40 m van die uitdaging te voltooi waar atlete oor 'n dam bedek met planke as 'n loopvlak, vinnig moes hardloop om te keer dat hulle nie sink nie.
Die kenmerkende dorre, sonnige Karoo, was niemand se speelmaat nie.
Op 'n vraag watter gedeelte van die uitdaging hy die moeilikste gevind het, het een van die Dust 4 Glory se voorste atlete oor die afgelope drie jaar, Bert Verlinde, gesê dat dit definitief die steil bulte is wat uitgedraf moes word.
"Die hindernisse gee 'n mens so klein bietjie kans om asem te skep, en van daar af kan jy weer jou wedloop voortsit. Die organisering was soos vorige jare puik en ek het pas op my horlosie opgemerk dat my tyd ses minute vinniger is as die vorige jare," het Verlinde glimlaggend gesê.
Volgens een van die organiseerders, Pienaar Muller, was dit soos met die vorige twee geleenthede, weer 'n unieke ervaring vir jonk en oud wat deelgeneem het.
"Ons het soos gewoonlik atlete, hul families en vriende gehuisves wat van oor Suid-Afrika gereis het om deel te neem aan hierdie uitdaging wat jaarliks net groei. Die Oktober-bierfees wat saam met Dust 4 Glory Challenge aangebied is, het ook gesorg vir 'n feestelike atmosfeer."
Muller het al die deelnemers, toeskouers, borge en verskaffers bedank wat deel uitgemaak het van die dag.
Die datum van die volgende Klein Karoo Dust 4 Glory Challenge sal spoedig bekend gemaak word op hul webwerf en Facebook-blad.
Een...Twee...Drie....Spring!
Deelnemers moes hul laaste greintjie energie inspan om die oorblywende 40 m van die uitdaging te voltooi waar atlete oor 'n dam bedek met planke as 'n loopvlak, vinnig moes hardloop om te keer dat hulle nie sink nie.
Een van die hindernisse wat ontwerp is om atlete tot die uiterste te beproef het 'n vlak swemspasie ingesluit met 'n swaar plaashek bo-op waar deelnemers bykans 5 m onderwater op hul rug moes swem. Foto's: Wyndham Ewerts
Die wenners in verskillende kategorieë is as volg:
D4G Pro Mans:
- Daniel Hughes
- Bert Verlinde
- Johan Smit
D4G Pro Dames:
- Stephanie Griffiths
- Elaine Fouche
- Mariaan Steenkamp
D4G Korporatief Pro:
- 2 Fit Guys & 2 Fatties
- Team Ricoh
D4G Medium Mans:
- Barend Smit
- Ethan Voigt
- Johan Marais
D4G Medium Dames:
- Melanie Verlinde
- Charlotte Wagener
- Sandra Marais
- D4G Korporatief Medium
- Team 4ever family
- Team Modderotters
- Team Karoo Oesters
D4G gr. 6 en 7-spanne
- Team Unstoppable van Laurus
- Team Superheroes van Laerskool Wesbank
D4G Mini-seuns:
- Jacques Smit
- Jean Both
- Mischa Smethler
D4G Mini-dogters:
- Iza Lourens
- Jani Botha
- Annebel Smith.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'