KAROO SPORTNUUS - Tussen honderde ander atlete, het vier Graaff-Reinetters, Hernus Stols, Elise en Stefan Steynberg en Alfred Malotana vroeg Sondagoggend, 9 Junie, by die wegspringpunt in Durban gestaan om die uitdagende 87,6 km van die Comrades-marathon te voltooi.
Die Comrades staan bekend as die wêreld se oudste en grootste ultra-marathon en bestaan al sedert 1921.
Die wedloop is deur Vic Clapham, 'n Tweede Wêreldoorlog veteraan op die been gebring om eer te betoon aan die Suid-Afrikaanse soldate wat in dié oorlog gesterf het.
Die wedren het hierdie jaar van Durban na Pietermaritzburg plaasgevind, wat bekendstaan as die "moeilike rigting" omdat dit feitlik net opdraand is.
Hierdie was Hernus se eerste keer dat hy aan die Comrades deelgeneem het. Hy vertel dat hy die Kaapstad-marathon en Cango-marathon moes voltooi, om vir die Comrades te kwalifiseer. Hy vertel dat sy pa, Christie Stols, 'n groot inspirasie vir hom was en dat hy dit nie sonder die ondersteuning van sy pa sou kon doen nie. "Hy was my rugsteen en het baie opgeoffer. Ek gaan definitief weer volgende jaar aan die Comrades deelneem," sê Hernus.
Elise en Stefan Steynberg is glad nie vreemdelinge tot die marathon-wêreld nie en Elise het op 2 Junie - net 'n week voor die Comrades - aan die Isuzu Ironman in Durban deelgeneem - 'n ware ystervrou in murg en been. Sy vertel dat die Comrades moeilik is en 'n mens met tye diep moet delf vir krag. "Hierdie is die 'ultimate human race', dit is veronderstel om nie maklik te wees nie. Die wedloop toets nie net jou fisiese voorbereiding nie, maar ook jou 'mental strength'," sê sy. Elise het haar sesde en Stefan sy vyfde Comrades hierdie jaar voltooi.
Alfred Malotana, wat al 'n ou hand in die Comrades-wêreld is, het hierdie jaar sy 20ste Comrades voltooi. Ongelukkig het hy 'n voertuig bestuur toe die Advertiser met hom wou praat oor die wedloop en die onderhoud kon nie voltooi word voor druktyd nie.
Comrades Marathon tye:
- Hernus Stols - 9:37:40
- Alfred Malotana - 9:42:42
- Elise Steynburg - 10:50:52
- Stefan Steynburg - 11:11:18
Stefan en Elise Steynberg.
Stefan en Elise Steynberg.
Alfred Malotana
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’