Gallery
GRAAFF-REINET NUUS — Hoër Volkskool het Saterdag, 30 September, die eerste Koedoeskloof MTB Challenge tydens die Karoo-lus Fees aangebied.
Die skool se personeel, leerders sowel as talle helpende hande het net ná son-op by hul verskillende punte aangemeld om van hierdie geleentheid ’n reuse-sukses te help maak.
Oud en jonk het hul vir die onderskeie afstande en afdelings ingeskryf.
Met net enkele sekondes tussen die eerste en tweede plek het Raye Moolman en Toni Brummer die 40km-manswedren in ’n naelbytstryd laat ontaard.
Onder die dames het Christine Swart geseëvier met Susan van Gent wat die tweede plek ingewin het in die 40km-wedren.
Ter afwagting op die prysuitdeling het deelnemers en hul gesinne ná die wedren op die Karoo-lus feesterrein ontspan.
“Ons is verskriklik dankbaar vir hierdie geleentheid en bedank ál ons borge, klein en groot, wat ons gehelp het om hierdie teiken te bereik. Sonder julle sou ons dit nooit kon doen nie,” het 'n woordvoerder van die skool dié week aan die Graaff-Reinet Advertiser gesê.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'