KAROO SPORTNUUS - Groot opgewondenheid heers en geluk-wensings stroom steeds in nadat Spandau Sekondêr op 1 Mei die titel as Oos-Kaapse kampioene in die FNB SuperSport Schools Clashes ingepalm het - die tweede jaar in 'n ry!
Hulle het vanjaar hul plek in die eindstryd verseker deur Mary Waters High van Makhanda 20 - 14 in die halfeindstryd te klop en daarna het die begeesterde span Ndzondelelo High van Zwide in Gqeberha 24 - 14 in die eindstryd verslaan.
Die puntemakers wat gesorg het dat Spandau Sekondêr uiteindelik koning gekraai het was Gerald Jaftha, Sheldon Jaftha, Austin Koeberg, Austin Booysen, Shastri Jantjies, Jason Koopman, Milroy Baartman en Onke Lakey en kaptein Sheldon Jantjies, het ook met vele straf-skoppe en doelskoppe na die pale geslaag.
Die speler van die wedstryd in die eindstryd was Gerald Jaftha, die buitesenter wat, volgens spanafrigter Cornell George, sy beste spel vir die laaste wedstryd gespaar het.
"Ons het egter nie sterspelers in die span nie," sê George. "Elke speler het 'n belangrike rol om te speel aangesien rugby 'n spansport is."
George vertel dat die span se voor-bereiding vir die toernooi in Januarie begin het.
"Ons resep vir sukses is harde werk, toewyding, opoffering en veral dissipline. Ek het die seuns probeer leer om kalm en geduldig te bly onder druk en net te hou by die wedstrydplan."
In verlede jaar se eindstryd het hulle teen Molly Blackburn High van Kwa Nobuhle in Gqeberha te staan gekom en 20 - 13 gewen.
"Die liefde en eenheid as 'n span en ons begeerte om die toernooi weer te wen was die groot dryfveer om net ons beste te gaan gee."
Vir baie van die spelers was dit ook hul laaste kans om aan die toernooi deel te neem en volgens George het dit beslis ook as motivering gedien om die beste uit hulle te kry.
"As afrigter is ek baie dankbaar en trots oor die oorwinning en veral die manier hoe die spelers as 'n eenheid gespeel het. Hulle dissipline, geloof, vertroue in mekaar en fiksheid het die oorwinning in die eindstryd vir ons moontlik gemaak," sê George. "Ons wil al die eer aan ons Hemelse Vader gee want sonder Hom sou dit nie moontlik wees nie."
Spandau se manne kraai koning met hul wedstrydkreet.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’