TUINROETE NUUS - Op Saterdag 14 Mei het die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging (SJB) weer 'n baie suksesvolle junior skietkliniek te Wouter de Vos-skietbaan aangebied.
Ses en twintig studente het Saterdag by die skietbaan aangemeld. Die teorie gedeelte is deur Hugo Moolman en Natie Fourie aangebied.
Die aanbieding het gehandel oor vuur-wapenveiligheid en die korrekte hantering van vuurwapens. Ná die teorie afgehandel is, het die praktiese gedeelte aangebreek.
Opleiding is deur ervare en topskuts van die vereniging aangebied en studente is geleer hoe om van die lê-, sit- en staanposisie te skiet. Daar is na papierteikens asook staalplaatjies geskiet. Sommige studente het vir die eerste keer 'n wapen hanteer en na aanleiding van die reaksie van die studente sal dit waarskynlik nie die laaste keer wees nie.
Dankie aan die ouers wat hulle kinders die geleentheid bied om aan sulke dae te kan deelneem en almal wat gehelp het om die dag 'n sukses te maak.
Indien jy belangstel om volgende jaar se skietkliniek by te woon, stuur 'n e-pos aan info@suidkaapjagters.co.za om jou naam op die waglys te plaas.
Volgende aktiwiteit
Die volgende aktiwiteit op die SJB kalender is die geborgde handwapenskiet wat 16 Junie by die Wouter de Vos-skietbaan plaasvind.
Voorafinskrywings sluit 13 Junie en lede en nie-lede is welkom om in te skryf – stuur navrae aan info@suidkaapjagters.co.za.
Opleiers hou 'n wakende oog.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'