Gallery
KAROO SPORTNUUS - 'Atlete' van oor die Karoo oefen reeds 'n week om in tiptop kondisie te wees vir vanjaar se Inperkingspele - 'n prettige manier om die gesin besig te hou, aangesien sport oor die wêreld weens die koronavirus tot 'n stilstand gekom het.
By die Van Tonder-gesin van Graaff-Reinet is daar ook deelgeneem. Die atlete was, onder andere, sibbe Alinda en Eduan Goosen. Die twee geniet nog altyd vriendelike kompetisie onder mekaar, maar vir die spele was die kompetisie ernstig; daar moet immers 'n wenner wees.
Volgens spanbestuurder, Sanet van Tonder, het die kategorieë 'n ronde Cluedo, tennis, handjietennis en vingerbord ingesluit.
Al het atleet Alinda haar goed van haar taak gekwyt in die sportafdeling was dit Eduan wat geskitter het. Hy verower 'n eerste plek in beide tennis, sowel as vingerbord. Wat is sy geheim tot sukses? Dít mag hy nie verklap nie, en sy opponente sal maar harder moet probeer.
Klik hier vir 'n fotogalery: Speletjies by die huis
Eduan kon wel nie goud behaal in Cluedo nie. Dáár het Alinda bewys dat die skoner geslag altyd 'n stappie voor is. Sy het in 'n rekordtyd vasgestel wie die moordenaar in die spel was; Meneer Pluim, in die kombuis, met 'n mes.
Gaan ek dit maak? Alinda konsentreer hard tydens vingerbord, maar Eduan wen dié afdeling.
Lekker saamspeel.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'