GRAAFF-REINET NUUS - Dr. Sherylle Calder, bekende sport wetenskaplike wat spesifiek op visuele vaardighede fokus, sal Vrydag met leerders in Graaff-Reinet gesels.
Hannelie Pienaar van MatchPoint-tennisakademie vertel dat hulle vreeslik opgewonde is om Calder te ontvang.
Sy gaan van 08:30 tot 09:30 met die leerders, ouers en onderwysers van Hoër Volkskool gesels oor die pad na goeie wetenskap en sukses waarna sy 'n vraag-en-antwoordsessie sal hê.
"Die hoogtepunt van die dag gaan Vrydagmiddag wees wanneer sy van die jong tennisspelers bietjie leiding gaan gee oor hoe om hul tegnieke te verbeter."
Calder het tussen 1982 en 1996 vir Suid-Afrika hokkie gespeel. Sy is in 1995 gekies wat in die voor-Olimpiese kwalifiserende hokkietoernooi gespeel het. Lande wat aan hierdie toernooi deelgeneem het, sluit in Duitsland, Nederland, Korea, China, Groot-Brittanje, Argentinië en Kanada.
Sy is ook die eerste vrou in Suid-Afrika wat 'n mans hokkiespan by die nasionale hokkietoernooi afgerig het. Daarna het sy ook Universiteit Stellenbosch se mans en vroue hokkiespanne afgerig.
Sy fokus veral op oogkoördinasie "hou die oog op die bal" en is dit ook die boodskap wat sy aan ander sportspelers wil oordra.
"Oogoefeninge en -koördinasie is vir haar baie belangrik. My dogter het jare gelede ook by haar geoefen en sy het as toptennisspeler onder Calder presteer. Uit persoonlike ervaring kan ek regtig sê dit is ongelooflik wat sy met kinders wat wil presteer kan vermag," het Pienaar vertel.
Calder het ook wêreldwyd simposiums bygewoon waar sy self 'n spreker was en het op die Sydney Olimpiese sportwetenskappaneel gedien.
Vir meer inligting oor Vrydag kan Pienaar by 072 686 1804 geskakel word.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'