GRAAFF-REINET NUUS — Die pas afgelope naweek het drie jong spelers van die Graaff-Reinet Muurbalklub aan die Alan Stapleton-muurbaltoernooi in Port-Elizabeth deelgeneem.
Dié toernooi, waar honderde spelers van regoor Suid-Afrika oor die bestek van drie dae kragte meet, is een van die Oostelike Provinsie se grootste muurbaltoernooie vir junior spelers en maak dit voorsiening vir seuns en meisies, ervare spelers sowel as nuwelinge tot dié sport.
Elke wedstryd word beslis deur die beste uit vyf stelle - elke deelnemer speel ten minste vyf wedstryde gedurende die loop van die naweek.
Die Graaff-Reinet Muurbalklub het drie lede gehad wat die dorp by dié toernooi verteenwoordig het.
Marlien Crewe-Brown het deelgeneem in die Dogters O.14-ouderdomsgroep, Wilke van Zyl in die Dames O.19-ouderdomsgroep en Llewellyn Crewe-Brown het sake uitgespook in die Seuns O.16-ouderdomsgroep.
Al drie hierdie spelers is verbonde aan Hoër Volkskool en word afgerig deur Paula Wessels.
In die voorafgaande paar weke het die spelers besonders hard geoefen vir die toernooi en het ervare spelers Danie Jackson, Marius van der Westhuizen en Pierre de Lange die spelers met hul spel en tegniek gehelp.
Wilke van Zyl, wat ten tye van die toernooi aan nierstene gely het, het ten spyte van die pyn deelgeneem en het onder die Top 10 geëindig in haar ouderdomsgroep.
Llewellyn Crewe-Brown se spel het met rasse skrede verbeter hierdie jaar en speel hy al baie kompeterende muurbal. Die O.16-ouderdomsgroep waarin hy deelgeneem het, was die grootste groep in die geskiedenis van die Alan Stapleton-toernooi en die mededinging was baie straf.
Die organiseerders moes noodgedwonge die spelers in drie groepe verdeel en is Llewellyn in die B-groep ingedeel. Hier het hy vier van sy vyf wedstryde gewen en het hy ook die B-groep finaal gewen.
Marlien Crewe-Brown het ses wedstryde gespeel waarvan sy vier gewen het. Sy het algeheel vyfde in die Dogters O.14-ouderdomsgroep geëindig.
Die Graaff-Reinet Muurbalklub is baie trots op dié jong spelers.
Die klub se president, Danie Jackson, hoop om die ontwikkeling van muurbal as 'n sport onder die jeug in die dorp voort te sit die jaar en word enige spelers wat belang stel om afrigting te ontvang genooi om hom te skakel by 082 326 0532.
Llewellyn Crewe-Brown in aksie.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'