Gallery
MURRAYSBURG NUUS - Daar is ook nog tyd om in te skryf vir die 'mees onontdekte bergfietsresies in SA'!
Die Crawl het meer as 20 jaar terug begin as 'n sosiale trap vir die boere van die Murraysburg omgewing en poog nou om 'n volwaardige 'event' op die Suid-Afrikaanse fietsrykalender te word.
Jy kan jou staal kom wys oor drie afstande:
Die 110km Marathon is 'n behoorlike toets vir gesoute bergfietsers. Die roete het verlede jaar so bietjie ekstra bene gekry met 'n addisonele 10+ km van plaaspaaie rondom die 'Horseshoe' rivierlope.
Die roete is 'n ongelooflike mooi vertoonvenster vir hierdie deel van die Karoo, met dele wat ryers VERSEKER slegs op hierdie resies kan beleef: Die Sneeuberge, Rivierkruisings, Skaappaadjies, Kranse-en-koppie klouter en Asemrowende uitsigte.
Ons is bly om te sê die roete ry baie makliker as verlede jaar se modderbad! Jy kan heelpad lekker trap!
FOTOGALERY: Sneeuberg Crawl vind môre plaas
Moenie dat die 1200m se totale klim jou mislei nie, dis 'n uitdaging… maar 'n bitter mooi een!
Die 50km het 'n SPLINTERNUWE roete, met 'n groot draai van die Sneeuberggrondpad af deur die plase van die area.
Jy sal hier ook die pragskoon van die area ten volle kan ervaar terwyl jy lekker jou asem skep - dis nie 'n baie moeilike roete nie en ideaal vir diegene wat die eerste keer hierdie afstand wil aanpak.
Dan is daar natuurlik die 30km. Die roete loop uit en terug op die Sneeuberggrondpad en is lekker vir die jongspan wat graag die eerste keer 'n 'langer' resies wil ervaar.
Ons het na die tyd 'n hele trommel vol 'Lucky Draw' pryse vir dié wat kom ry. Die belonings is nie net vir die podium jaers nie!
En dan natuurlik deel ons die dag met ons kerkbasaar…
Heerlike Kos, Potjiekompetisie, lekker Koffie, kroeg en pret vir die kinders!
Bring kontant saam en 'n hart vol vreugde want dis lekker in die Karoo!
Jy kan nog op die dag inskryf vanaf 6:00 die oggend.
- 110km begin 7:00 - R400
- 50km begin 8:00 - R200
- 30km begin 9:00 - R150
Kontak ons as jy kampplek soek deur ons Facebook blad. Kostes beloop R200 per persoon vir die naweek (Vrydag tot Sondag).
Al die pret vind plaas by die Murraysburg Skougronde môre, Saterdag 1 April.
Sien jou daar!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’