MIDDELBURG NUUS — Hoërskool Middelburg se Interskole-naweek het Vrydag om 11:00 afgeskop met die redenaars, skaak-, gholf-, en tennisspanne wat hul staal moes wys.
'n Sterk wind het die spelers glad nie afgesit nie en goeie tennis en gholf is gespeel. Verskeie oud-leerders het spesiaal die naweek kom bywoon en daar is omtrent gekuier om die tennisbane.
Vrydagaand is afgesluit met die muurbalspanne wat teen mekaar te staan gekom het waarna leerders van albei skole die sokkie in die Hoërskoolsaal kon gaan bywoon. Volwassenes het die "Bok en Biltong aand" bygewoon en kon luister na die staaltjies van onder andere Ollie le Roux, Patrys van der Merwe en Nico Wegner. Daar is tot laat gekuier om die skaappotjies en tuisgebakte brode.
Saterdagoggend was die afwagting en opgewondenheid voelbaar. Die dag het afgeskop met Mnr. MHS, Jannie Blom wat die netbalspanne sterkte en voorspoed toegewens het. Die onderskeie skole se netbalspanne het hul uitstekend van hul taak gekwyt en gesorg vir goeie netbal. Hier verdien die twee eerste netbalspanne egter spesiale vermelding. Die twee spanne het vir 'n lang ruk kop-aan-kop geloop waarna MHS die voortou neem. Kirkwood veg egter verbete terug met die eindtelling 30 elk.
Mej. MHS, Suene Mitchley, wens die twee eerste rugbyspanne sterkte toe waarna die spel begin. Harde fisiese rugby word gespeel en beide spanne het spoedig punte op die telbord. MHS geniet egter die tuisvoordeel en tree as oorwinnaars uit die stryd.
'n Ongelooflike gees van beide leerders en oud-leerders asook persone wat sommer net hul spanne kom ondersteun het, sorg dat MHS die beker kon huistoe bring.
Hoërskool Middelburg se eerste rugbyspan het hul interskole-kragmeting gewen.
Interskole uitslae:
Die eerste rugbyspan wen 27-25 in 'n naelbyt-eindstryd terwyl die eerste netbalspan met 'n telling van 30 elk gelykop gespeel het.
Die O.16A netbalspan wen 34 - 4, die O.14A-span wen 38 - 6 en die tweede netbalspan verloor 15 - 9.
Die O.15-rugbsyapn verloor 24 - 17 en die O.16-span wen 39 - 35 teen MSSS.
Die tennispanne wen 98 - 69, die skaakspelers wen 6 - 1, die gholfspan wen 56 - 50, die muurbalspanne verloor 7 - 4 en die Middelburg redenaars wen 4 - 1.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'