KAROO NUUS - Mathys Oberholzer, 'n matriekleerder van Hoër Volkskool in Graaff-Reinet, het op 28 en 29 Julie uitstekend in die 2023 Afrika Genesis Boogskiet Wêreldkampioenskappe by die reservaat, Camp Discovery in Limpopo, gevaar.
Oberholzer het in die junior afdeling vir die ouderdomsgroep 13 tot 18 jaar geskiet en in die driedimensionele teiken-skietafdeling 'n gouemedalje verower en in die Bulls-Eye-afdeling 'n silwer.
Om te kwalifiseer vir die wêreldkampioenskap moes hy in die nasionale boogskietkom-petisie 'n podiumplek behaal.
Oberholzer het van die eerste keer wat hy as tjokkertjie op agtjarige ouderdom 'n pyl en boog vasgehou het, geweet hy het 'n passie vir die sport.
"Alhoewel dit 'n individuele sport is, maak jy tog deel uit van 'n span. Die vriendskappe wat ek gesmee het, is baie kosbaar vir my."
Hy het sy eerste kompetisie in 2020 gewen en vertel dat hy al teen 'n gesiggestremde meisie geskiet het. "Sy het selfs beter as ek geskiet."
Oor sy onlangse ervaring by die wêreldkampioenskappe sê hy dat dit baie stresvol was, maar dat hy trots is op sy prestasies. Die prestasies wat hy behaal het is indrukwekkend - die boog het nie 'n mikpunt nie, en sukses hang af van instink en intuïsie.
Suid-Afrika was die afgelope ses jaar aan die voorpunt van die sport, maar hierdie jaar het Suid-Afrika tweede plek behaal.
Gevra vir die sleutel na sukses in boogskiet, antwoord hy kort en kragtig: "Herhaalde oefening. Bly aanhou oefen."
Maar vir eers is Oberholzer van plan om sy pyl en boog op te hang terwyl hy op sy studies fokus.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’