GRAAFF-REINET SPORT NUUS — Die jaarlikse interskole-kragmeting word om die beurt deur Union en Volkskool aangebied. Dié jaar is Laer Volkskool aan die beurt.
Deon Joubert, die skoolhoof van Laer Volkskool, rig graag die volgende boodskap aan die gemeenskap van Graaff-Reinet:
"Saterdag, 11 Augustus, is dit weereens daardie tyd van die jaar wanneer Graaff-Reinet tot stilstand kom met die opwinding van die jaarlikse Interskole tussen Volkskool en Union.
As die tweede oudste Interskole in die land het dit onlosmaaklik deel geword van die geskiedenis van Graaff-Reinet en alhoewel elke span poog om hul westryd te wen, gaan Interskole oor meer as net die stryd op die sportveld. Dit is meer as net nog ‘n wedstryd.
Elke speler streef na die geleentheid om aan Interskole deel te neem en die seisoen met ‘n oorwinning af te sluit. Dit is sonder enige twyfel die sporthoogtepunt in elke leerling se skooljaar. Aan elke deelnemer word sterkte toegewens. Mag elke stryd in ‘n gees van ware sportmanskap gevoer word en mag die beste span seevier.
Dit gaan ook oor die hernuwing van wedersydse vriendskapsbande tussen beide skole se leerlinge, ouers en ook oudskoliere. Dit gaan oor deel te wees van die ryke tradisie van Interskole.
Mag Interskole dus aan elkeen se verwagtinge voldoen. Mag elkeen sy/haar reunie met ou vriende geniet en mag elkeen die gasvryheid van ons skole, Graaff-Reinet en sy mense ervaar.
Die rol van borge by Interskole kan ook nie onderskat word nie en daarom is ons trots om ons hoofborg, Eerste Nationale Bank, en al die ander borge, as vennote welkom te heet. Elkeen se bydrae word opreg waardeer en is ‘n waardevolle belegging in die toekoms van ons kinders en ons jeug.
Laer Volkskool wens elke leerling, personeellid, ouer, oudskolier en ondersteuner ‘n geseënde Interskole toe. Mag dit ‘n onvergeetlike ervaring vir elkeen wees."
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'