ABERDEEN NUUS - Die Aberdeen-posduifklub se jaarlikse prysuitdeling is Saterdagmiddag, 19 November, by die splinternuwe Inqua Kombuis gehou.
Die Lategan-hokke het vanjaar omtrent vlerke geklap en met nie minder nie as drie toekennings weggestap.
Hulle is aangewys as algehele kampioen vir die jaar, asook kampioene in die jaaroud-afdeling en die ope duif-afdeling.
Brahm Sedras het die algehele tweede plek behaal en Enzo Meyer, voorsitter van die Aberdeen-klub, het derde plek verower.
Gasspreker Petrie Maree het nuttige wenke oor die versorging van wedvlugduiwe gedeel. "Beter kon ons nie voor vra nie. Vergil en Danny van Inqua Kombuis het ons hartlik verwelkom en die geleentheid spesiaal gemaak. Ons het heerlik gekuier en geëet en bedank graag al ons borge wat die geleentheid moontlik gemaak het," het Mercutio Coetzee, sekretaris van die klub, na die tyd gesê.
Die wedvlugseisoen strek van Julie tot September met 12 vlugte jaarliks. "Ons klub bestaan al van 2006 af en ons het ses lede. Ons wil graag ons ledetal in Aberdeen groei en beplan om volgende jaar 'n wedvlug of twee net vir die plaaslike gemeenskap aan te bied. Belangstelling in hierdie sport groei soos mense bewus raak daarvan," het Coetzee gesê.
Brahm Sedras het tweede geëindig.
Lede van Aberdeen-posduifklub in ligte luim buite Inqua Kombuis.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'