GRAAFF-REINET - Ses spanne het verlede naweek aan die Graaff-Reinet-rolbalklub se gemengde pare-kompetisie deelgeneem.
Na Saterdag se spel van drie 16-kop wedstryde, was daar net twee onoorwonne paartjies - Arthur Langley en Helene de Wet; en Wally Koetaan en Riana du Toit.
Saterdag is daar ook twee agts aan-geteken, gelyk aan 'n kolhou in gholf, die een deur Langley en De Wet en die ander agt deur Ivor Wakeford en Priscilla West.
Sondagoggend is die stryd aangesê tussen die twee onoorwonne spanne en was dit voorwaar 'n titaniese stryd.
Die eindtelling in hierdie kragmeting was 11 - 10 en 'peels' (gelykop) is drie keer aangeteken.
Langley het ook nodig gehad om 'n paar dryfskote te speel en met die 14de kop het die witbal (jack) vanaf Barnardbaan, op Asherbaan beland.
Toeskouers is beloon met uitstekende rolbal en die weer het ook saamgespeel.
OP enkelspel-eindstryd
Die bestuur, lede en vriende wens Wally Koetaan (seniors), Arthur Langley, Helene de Wet en Charlene Colyn alle voorspoed toe wanneer hulle hierdie naweek deelneem aan die OP enkelspel-eindstryd in Gqeberha.
Middelande gemengde pare
Die Middelande-rolbaldistrik hou die gemengde pare-kompetisie op die bane van die Cradock-rolbalklub op 29 en 30 April.
Voorspoed aan alle deelnemers en veilig reis!
Hansie Jordaan en Corrie van Zyl het die houtlepel verower.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’