GRAAFF-REINET HOKKIENUUS - Cornelle Holtzhausen, née Botha, en Sulette Damons, oudleerlinge van onderskeidelik Volkskool en Union High, het verlede maand Graaff-Reinet se naam hoog gehou by die nasionale vroue-hokkietoernooi in Bloemfontein.
Albei vroue is in die senior Vrystaat-hokkiespan wat in Augustus aan die toernooi deelgeneem het.
Damons en Holtzhausen het vroeër ook vir die senior Protea-hokkiespan gespeel, met Damons wat kaptein van die span was.
Damons het vroeër vanjaar, na nege jaar en 198 verskynings vir die nasionale span, uit internasionale hokkie getree. Damons het voorheen vir Noordwes gespeel, maar speel die laaste jaar vir Vrystaat waar sy onderwys by St Michaels in Bloemfontein gee.
Holtzhausen is al vir nege jaar, sedert gr 11, deel van die senior Vrystaat-vrouespan, nadat sy gr 10, 11 en 12 by Oranje Meisieskool in Bloemfontein voltooi het. Sy het van 2014 tot 2016 vir die Proteas uitgedraf, maar moes die internasionale hokkie-arena op die kruin van haar sukses vaarwel roep ter wille van haar klerkskap by 'n ouditeursfirma.
Omdat hokkie nie 'n professionele sport is nie, moet selfs Proteaspelers hulle eie onkostes vir toernooie dek en dit dwing hulle om noodgedwonge wrede loopbaankeuses te maak.
Ina Botha, hoof van die Graaff-Reinet Karoohokkieskool, sê met dié twee senior spelers se impak het 'n relatiewe jong, onbekende Vrystaatspan bo-aan hulle poel geëindig. "Vrystaat het met WP, wat ses huidige Proteas in hulle span het, asook met Natal in hulle poelwedstryde afgereken. In die kwarteindstryd het hulle OP 4-2 gewen. Vrystaat het in die semi-finaal teen die wenners van die toernooi, Noord-Transvaal verloor."
Botha sê daar is verseker nie baie plattelandse dorpe wat kan spog met twee Proteas in die SA-hokkiespan nie.
"Hierdie twee spelers is rolmodelle vir Karoosportmanne en -vroue. Hulle wys dat met harde werk en baie deursettingsvermoë, spelers uit die platteland die hoogste sport kan bereik."
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'