GRAAFF-REINET HOKKIENUUS - Die Karoo Hokkieskool gaan op Vrydag, 5 Oktober, en Saterdag, 6 Oktober, 'n hokkiekliniek by Union High se Astro aanbied.
Karoo Hokkieskool beoog om met dié kliniek die kinders van die Karoo - hetsy beginner of ervare speler - die geleentheid te bied om hul eie tegniek en vaardighede te verbeter.
Die skool hoop ook om by wyse van dié kliniek en hul weeklikse afrigtingsessies 'n liefde vir dié sport by die kinders te vestig.
"Hokkie is van die sportsoorte wat die meeste tegniek vereis en Karoo Hokkieskool is bevoorreg om van die Astro (kunsmatige grasoppervlak) van Union High gebruik te mag maak," sê Ina Botha, hoofafrigter van die Karoo Hokkieskool.
Botha was 'n provinsiale binnenshuis- en veldhokkiespeler en het ook in 2016 en 2017 as deel van die Elsie Coetzer Hokkieskool 'n span na Holland vergesel. Daar het hulle afrigting ontvang van internasionale spelers van, onder andere, Holland, België, Engeland, Ierland en Spanje.
Twee Suid-Afrikaanse-spelers is deel van die afrigtingspan vir dié kliniek, Cornelle Holtzhausen, Graaff-Reinet se eie Protea en Jonelke Swanepoel, 'n SA O.21-speler.
Hulle word bygestaan deur Karen Reynolds (provinsiale en Matiespeler) Hetma Michau (provinsiale doelwagter), Arijana Botha (provinsiale en Pukspeler), Micela Loock (Union High en OP-speler), Lynette Ittershagen-Strauss (Volkskool en OP-speler) en Mandie de Wet (Oranje en Vrystaatspeler).
As daar na dié gedugte afrigtingspan gekyk word, kan die Karoo se kinders verseker wees van net die beste afrigting tydens die kliniek.
Nedstar, 'n trots-Suid-Afrikaanse hokkienaam, tree as die amptelike borg van die Karoo Hokkieskool op.
Karoo Hokkieskool maak graag gebruik van dié geleentheid om vir William Pringle, die hoof van Union High School, te bedank vir die beskikbaarstelling van hul uitstekende hokkie-fasiliteite.
'n Verdere woord van dank word gerig aan Montego Pet Nutrition vir die borg van die t-hemde wat elke speler by die kliniek sal ontvang, asook aan Liesbeth Loeber-Crol vir haar ruim bydrae tot die ontwinkkeling van hokkie by Spandau Sekondêre Skool.
Diegene wat belang stel om die hokkiekliniek by te woon, of wat meer hieromtrent wil uitvind, kan Ina Botha skakel by 082 822 5311.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'