GRAAFF-REINET NUUS - Zanki Botha van Hoër Volkskool het uitstekend gevaar tydens die SA-perdrykampioenskappe in Bloemfontein waar sy deelgeneem het aan die reserwe SA kampioen plesierperd ruiterkuns (18 jaar en jonger).
In die vyfgang kinderruiterafdeling behaal sy 'n derde plek en 'n sewende plek in die driegang kinderparkperd-afdeling. Sy behaal ook 'n sewende plek in die groot kampioen vyfgang kinderryperd-afdeling.
Tydens die glans prysuitdelingsfunksie het Zanki haar senior Protea baadjie (top ses ruiters in die land) ontvang vir beide die driegang en vyfgang afdelings.
Sy is die enigste OP-ruiter wat hierdie prestasie behaal en slegs een van drie ruiters in die land wat in beide senior spanne opgeneem is.
Sy eindig by die provinsiale proewe in Januarie algeheel tweede in die driegang rangorde uit al die ruiters in SA en sesde in die vyfgang-afdeling, met 'n algehele derde plek.
Volkskool se hoofdogter, Marichen Piek, het verlede week aan die SA saalperdkampioenskappe in Bloemfontein deelgeneem.
Die Kampioen van Kampioene is 'n ruiterkunsklas waar deelnemers aan uitdunne deelneem en slegs die top agt deelnemers deurgaan na die finale rondte. Marichen is as die reserwekampioen in die driegang Kampioen van Kampioene vir 2019 gekroon.
Sy is ook gekroon as die kampioen in die kinderkampioen parkperdklas, waaraan sy deelgeneem het met haar perd, Mamma's Choice. Haar pa, Philip rig self die perd af.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'