GRAAFF-REINET SPORTNUUS - Die Adelaars-hokkietoernooi van Hoër Volkskool het vir groot pret gesorg toe gemengde spanne mekaar die stryd aangesê het verlede Vrydagmiddag, 19 Oktober by die Union Astro-baan.
Spanne van verskillende ouderdomme en vaardigheidsvlakke het deelgeneem wat bygedra het tot die pret.
Volgens die organiseerders van dié sewes-hokkietoernooi, moes deelnemers self spanne saamstel en besluit op 'n naam en spandrag.
Dié toernooi is aanvanklik verlede jaar vir die eerste keer aangebied en na aanleiding van die 2017 toernooi se sukses, is daar besluit om dit 'n jaarlikse instelling te maak.
Dié jaar het die spanne mekaar aangepak deur elk 'n poel wedstryd teen mekaar te speel, waarna die top vier spanne mekaar in die halfeind-ronde aangepak het.
In die finaal het die twee wenners van die halfeind-ronde mekaar in 'n titaniese stryd aangesê.
Op die einde het Grootfontein se eerstespan as wenners uit die stryd getree, met sterk kompetisie van die span wat tweede geëindig het, by name Heinz en die Res. Toeskouers het hulself gate uit geniet en hul goed laat hoor op die pawiljoene om seker te maak dat almal op en rondom die veld weet vir wie hul ondersteun.
Die kompetisie is afgesluit met 'n jolige ete en sokkie by Hoër Volkskool se klubhuis, Die Volksie.
Die organiseerders bedank graag elke speler vir hul gees en entoesiasme wat van die dag 'n reusesukses gemaak het.
'n Woord van dank word ook aan die borge, die Desert Spring Spur, Isu-Rommel, FlyKaroo, KarooBallooning, Nommerpas, Karoo Living en Polka, gerig vir hul ondersteuning.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'