GRAAFF-REINET NUUS - Uitstekende sportmangees en groot entoesiasme onder al die spelers was die kenmerk van die netbaltoernooi wat verlede Saterdag tussen Birds United en Galaxy aangebied is.
Galaxy se o.13's het die Birds met 13-7 geklop, maar Birds se o.15-span het die bordjies verhang en Galaxy met 23-17 gewen.
In die wedstryd tussen die twee klubs se senior spanne het Birds vir Galaxy met 32-20 geklop.
Birds United was dié week druk besig om hulself gereed te kry vir die komende naweek se Samara-netbaltoernooi wat Saterdag en Sondag in Graaff-Reinet aangebied word.
Augustine Japtha, afrigter van Birds United, sê spelers, afrigters en die toeskouers het die toernooi terdeë geniet.
"Ek wil veral die meisies bedank vir hul goeie sportmangees om dit 'n onvergeetlike dag te maak."
Charlotte Mackelina, afrigter van Galaxy-netbalklub, het ná afloop van die toernooi gesê sy is baie dankbaar vir dié geleentheid om haar span weer op die baan te kry. "Ons wil deur netbal 'n verskil in die meisies se lewens maak. Ek is werklik trots op Galaxy se spelers wat nooit moed opgegee het nie al het hulle agtergeloop.
"Ons het nou weer hoop vir die toekoms en weet presies wat ons wil hê. Saam kan ons nog groot hoogtes bereik. Al die spelers, Birds United ingesluit, het netbal se naam hoog gehou. Ek is trots op hulle almal."
Shurena Jaftha vang die bal bo haar kop.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'