GRAAFF-REINET NUUS - Om die 90ste bestaansjaar van die Graaff-Reinet-rolbalklub behoorlik te vier, word die alomgewilde Gem of the Karoo-rolbaltoernooi dié komende naweek hier aangebied.
Daar is niks kleins aan dié gewilde uitnodigingstoernooi waaraan 36 spanne uit die Wes- en Oos-Kaap - én natuurlik die groter Karoo - gaan deelneem nie.
Die 144 spelers, met 'n oud-Protea en verskeie provinsiale spelers in hul midde, gaan die drie rolbalperke, wat in 'n uitstekende toestand is en met groot sorg deur Francois Oosthuizen versorg is, vir drie dae ten volle beset.
Dis die 24ste keer wat die GEM-toernooi hier aangebied word en met die ruim borgskap van R20 000, wat Spar Graaff-Reinet se eienaars, Hansie Jordaan en Frikkie Coetzee, op die tafel gesit het, kan mens verstaan waarom dit die grootste rolbaltoernooi is wat nóg in die Oos-Kaapse binneland aangebied word.
Dat die toernooi 'n gesonde ekonomiese inspuiting vir die dorp inhou, is nie te betwyfel nie. Blyplekke is lankal opgeraap en eet- en drinkplekke sal goed besig wees.
Die toernooi skop vanaand af met 'n skemerkelkie by die rolbalklub.
Spel begin Vrydagoggend om 09:00 en die dag word afgesluit met 'n spitbraai met vier skape, wat deur lede geskenk is. Trouens, vyf skape is geskenk, maar skaap nommer vyf is bestem vir die wenspan.
Spel op Saterdag begin ook om 09:00 en die aand is daar 'n steakbraai vir die spelers. Gerugte sê die onnutsige Neil Colyn en Oosie Oosthuizen sal die braaiwerk behartig.
Sondag is die eindstryd, wat ook om 09:00 afskop en na verwagting sal die wenspan kort ná eenuur gekroon word.
En teen vyfuur Sondagmiddag keer Graaff-Reinet terug na normaal.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'