GRAAFF-REINET NUUS - Vyftig jaar gelede, in 1970, was Volkskool amper slaggereed vir die jaarlikse interskole-kragmeting.
Maar in Junie daardie jaar het 'n griepepidemie by Union High uitgebreek en in Augustus was dit Volkskool se beurt. Baie van die kinders was siek aan griep en brongitis of die erge pes, soos hulle daarna verwys het.
Die rugbyspelers wat die griep vrygespring het is die week voor die tweede kragmeting in Augustus gevra om een pouse in die saal bymekaar te kom sodat hulle spanne kon opmaak vir die wedstryde. 'n Eerste span sou uit spelers van die eerste, tweede, derde en vierde spanne saamgestel word. Nog 'n span sou uit die o.14 en o.15-spelers saamgestel word.
Toendertyd was daar niks so intimiderend soos 'n polisieman in uniform nie. Hoeveel te meer as die bevelvoerder van die polisie, majoor Benecke, en die hoof- mediese beampte van die munisipaliteit, dr. Johan Human, die saal binnekom en die spelers se geesdrif blus. Dr. Human het die spelers ingelig oor hoe gevaarlik dit is om aan sport deel te neem terwyl jy grieperig is, en gesê geen sport sal toegelaat word nie. Hy het majoor Benecke opdrag gegee om enige spelers wat dit op die veld sou waag, asook hulle ouers, in hegtenis te neem.
In daardie jare is daar twee kragmetings tussen Volkskool en Union High gehou en mnr. Dugmore, hoof van Union High, het gevoel om die jaarlikse "oorlogvoering" tot net een kragmeting te beperk.
Tydens dié wedstryd teen Union High was daar baie beserings en moes spelers die veld verlaat.
Anders as vandag is 'n beseerde speler nie met 'n reserwespeler vervang nie. Hoewel die oorblywende 12 spelers die wedstryd teen Union High met 17-3 verloor het, is die Volkskoolspelers na die wedstryd op die skouers van Union-ouers van die veld gedra uit respek vir 'n span wat tot die einde hulle beste gegee het. Dis net menslik dat die Volkskoolmanne alles in die stryd sou werp om die teenstanders te wen.
Die groot verskil tussen die gebeure van 1970 en 2020 is dat geen sport vir die res van hierdie jaar toegelaat word nie. Leerders wat goed presteer kan dus nie vanjaar provinsiale kleure verwerf nie.
Die hoofseun van 1970, Don van Wyk, praat vanjaar se interskole-spanne bietjie moed in met die volgende boodskap:
"Die lewe het 'n geneigdheid om 'n draaibal na jou kant te gooi, maar dit is nie die einde van die wêreld nie! Die lewe gaan aan. Dit mag nou voel of alles tot niet is. Ons besef dat die interskole wedstryde een van die belangrikste wedstryde in jou lewe mag wees. Vir baie spelers is dit die laaste wedstryde wat hulle ooit sal speel, omdat die kans skraal is dat jy die jaar na skool weer die kans sal kry om in sport te presteer. Nou is jy 'n speler in 'n eerste span en daarna is jy niks. Die lewe gee weer nuwe uitdagings en nuwe rigting."
Die klas van 1970 sou Vrydagaand hulle 50-jaar reünie bygewoon het.
Wie sou kon raai dat dit dieselfde klas is wat in 1970 'n soortgelyke ondervinding as nou gehad het?
Volkskool se eerste hokkie span van 1970 het nooit die kans gekry om op die interskole-veld uit te draf nie.
- Bettie van der Merwe is van Hoër Volkskool se oudskoliere-kantoor.