HOFMEYR NUUS - "Ek hardloop want dit is vir my so lekker. My eerste onthou van hardloop is meer as 50 jaar gelede op die tweespoor Karoo-grondpad na die Sandland onder die koppie. Die vryheid om net te hardloop en hardloop met die reuk van Karoobossies in jou neus bly my nog altyd by."
So vertel Rietha Fourie Gaybba, 'n boorling van Hofmeyr en die wenner van die vroueafdeling van die Trek 2 Teebus-uitdaging.
"Op skool het ek aan atletiek deelgeneem en soms gaan hardloop, dikwels op my eie. Maar dit was eers na skool wat ek op 'n gereelde basis begin hardloop het en aan padwedlope begin deelneem het.
"My eerste padwedloop (10 km) was in Gqeberha (PE). Hierna het ek aan verskeie padwedlope oor verskillende afstande (van 10 km tot 50 km) deelgeneem. Ek het ook die geleentheid gehad om 'n marathon in Copenhagen (Denemarke) te hardloop."
Gaybba sê van die hoogtepunte van haar hardlooploopbaan was toe sy tweede van die veteraanvroue by die Old Mutual Rustenburg Mountain Race (25 km) gekom het.
In 2017 was sy ook tweede by die Skukuza Castle Lager-halfmarathon (21 km) in haar ouderdomsgroep. Ook in 2017 het sy vir haar Gauteng-Noord klere gekwalifiseer (10 km Road Running).
"In 2013 het ek aan my eerste veldwedloop, die Otter van 44 km, deelgeneem en my kategorie gewen. In 2014 het ek die RETTO (Otter terug gespel) gedoen en was tweede in my ouderdomskategorie. Tussendeur het ek aan verskeie korter wedlope deelgeneem."
Sy sê haar hartsbegeerte van lank gelede was om in die stowwerige voetpaadjies van die Karoo te hardloop.
"Dit is uiteindelik bewaarheid. Stoksiel-alleen met my eie gedagtes in die mooi Karoo, die reuk van kakiebos, kouse vol steekgras en klitsgras en die son wat bloedig agter Koffiebus en Teebus sak was ek sielsgelukkig."
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'