JANSENVILLE NUUS — Daar heers reeds groot belangstelling in die derde SAMIL Angora MTB Classic wat op 2 September te Jansenville aangebied gaan word.
SAMIL - as hoofborg – tesame met 40 ander borge - het groot pryse aan die seevierende deelnemers beskikbaar gestel wat beteken dat inskrywings van sover as Bloemfontein en Kaapstad al gelok is.
Die fietsry-roetes bestaan uit ‘n 65km-roete en ‘n 25km-roete wat oor een van die mooiste en interessantste, skouspelagtige dele van die distrik strek.
Deelnemers sal op ‘n kol langs die Sondagsrivier met pragtige landerye ry en van daar deur skouspelagtige bergagtige gedeeltes.
Volgens fietsryers wat dit reeds gedoen het is die wedren uniek en dele daarvan uitdagend – dit is ‘n perfekte roete vir bergfietsryers aan die begin van die seisoen.
Daar word ook 21km, 10km en 5km hardloop/stap items aangebied oor soortgelyke unieke roetes in die natuur.
Die byeenkoms sal om 08:00 in aanvang neem vanaf die stadsaal op die dorp.
Die fietsryers sowel as stappers/drawwers sal hier begin en eindig.
Daar is dan ook baie vermaak vir diegene wat wag vir die deelnemers om klaar te maak.
Verskeie stalletjies wat allerlei items soos byname bokhaarprodukte en tuisgemaakte artikels en lekkernye verkoop, sal opgerig wees. Vir die jong span sal daar ‘n kinderhoekie met allerhande aktiwiteite soos ‘n springkasteel, gesigverf ensomeer wees om hulle besig te hou. Daar sal ook toesig oor die kinders gehou word terwyl die ouers trap of draf. Die Oos-Kaapse Angora Jeugskou sal ook hier optree.
Gaskunstenaars
Terence, Crystal en Tamzin sal Vrydag- en Saterdagaand vermaak verskaf by die plaaslike krieketklub terwyl Jacques Arendt as aankondiger en platejoggie vir Saterdag by die stadsaal sal optree.
Die Angora MTB Classic word aangebied deur Huis Welverdiend, die NG Kerk en die plaaslike toerisme vereniging
Vir verdere navrae kan Leoné Mulder by 083 663 3002 of huiswelverdiend@telkomsa.net gekontak word.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'