KAROO SPORTNUUS - Dit gaan die gemiddelde mens se verstand te bowe hoe enigiemand die afstand van Pietermaritzburg na Durban in KwaZulu-Natal sal draf terwyl daar paaie en voertuie is wat met veel meer gemak die roete kan aandurf.
Maar vir die plaaslike drawwer, Elise Steynberg, en haar man Stefan, boere uit die Kendrew-omgewing, het die Karoo hulle nie effentjies groot gemaak nie en is daar min uitdagings waarvoor hulle nie kans nie.
Graaff-Reinet Advertiser het gaan gesels met die Steynbergs wat op 11 Junie vanjaar die Comrades-marathon vir die vyfde keer voltooi het.
Elise en Stefan het onderskeidelik die marathon in 10:22:19 en 10:42:29 kaf gedraf en pronk hul name nou op die eremuur van atlete wat die marathon voltooi het. Elise verduidelik dat die drafgogga haar in 2009 gebyt het met die geboorte van haar jongste kind om gewig te verloor. Sy het toe saam met vriende vir die Meiringspoort se 10 km-wedloop ingeskryf en daarna meer ernstig begin oefen.
In 2016 neem sy aan haar eerste Comrades deel waar sy net-net nie die afsnytyd kon maak nie. Maar dit was meer petrol vir haar vuur en het sy nie moed opgegee nie, maar aanhou oefen en sedertdien nog elke jaar die marathon voltooi. Selfs gedurende die inperkingsperiode het sy twee virtuele Comrades-marathonne voltooi. "Dit wissel heeltyd, van diep donker plekke na tevrede en gelukkig.
Ek probeer om voorbereid op te daag so ek weet ek het my kant gebring, dis net vasbyt," so verwys Elise na die vraag, waarop sy haar gedagtes fokus op die roete.
Die voorbereiding tot so 'n marathon begin volgens die Steynbergs in Januarie reeds en is konsekwentheid in jou oefenprogram baie belangrik, maar die ware sleutel tot sukses lê in jou ondersteuningsnetwerk.
"Sonder ondersteuning is die Comrades nie moontlik nie. Stefan doen naweke die langafstande saam met my, en die kinders doen die ondersteuningsvoertuig - so dis spanwerk," sê Elise. Hardloop bring Elise soveel geluk en neem sy ook kranig deel aan driekampe omrede, "Dit vir my 'n voorreg is om dit te kan doen. Ek waardeer elke dag as ek buite oefen die lewe meer en meer. Dit bring my soveel geluk om te kan leef so ek probeer elke oomblik daarvan inneem en gebruik."
Laastens wou die Advertiser by Elise weet hoe sy iemand sou motiveer wat belangstel om ook volgende jaar die Comrades af te lê. Sy verduidelik dat, "Comrades is die Ultimate Human Race - dit is taai, maar so ook is die lewe. Mens gaan deur goeie tye, swaartye, maklike- en moeilike tye, maar ons almal gaan die eindstreep bereik.
Al wat dit van jou vat is alles wat jy kan gee. Ek sou elke persoon wat kan draf aanbeveel om dit te doen, dit is nie onmoontlik nie. Ek self is nie 'n atleet nie. Ek moes hard werk om dit te kon doen en nooit moed opgegee nie en dít is al wat jy nodig het. Dis net genade en dit sal jou lewe verander."
Elise Steynberg is 'n formidabele voorbeeld van 'n geharde Karoo-plaasvrou wat met moed, uithouvermoë en oorgawe die beste uit die lewe aangryp en geniet. Wat bewys dat alles moontlik is, as jy net probeer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’