FIETSRY NUUS - Eden se fietsryers het verlede week geskitter tydens die jaarlikse fietsry-jeugfees wat vanaf 11 tot 13 Julie in Oudtshoorn plaasgevind het.
Die geleentheid het saam die interdistrikte -fietsrykompetisie geval met Eden wat ook hier vir die 6de agtereenvolgende jaar met die louere weggestap het.
Altesaam 275 deelnemers het vanjaar aangetree vir hierdie gewilde fietsry-geleentheid. Fietsryers van so jonk as agt jaar oud het in die kriterium, padwedren, spantydtoets, bergfiets, - en ovaalbaan-wedrenne meegeding.
Die voormalige provinsiale fietsryer, Keeran Aries, was die jongste gekwalifiseerde nasionale kommissaris tydens die kompetisie.
Divan Terblanche ry oor die wenstreep in die junior mans-afdeling. Foto: Stefan Goosen
So het die streke gevaar:
- Eden - 1 073 punte
- Kaapse Metro - 611 punte
- Kaapse Wynlande - 162 punte
- Oos-Kaap - 78 punte
- Weskus - 78 punte
Op Donderdag (13 Julie) het deelnemers aan die veldwedren-kategorie van die fees deelgeneem, wat net buite Oudtshoorn rondom die plaaslike RedRock Raceway-ovaalbaan plaasgevind het.
Minister Anroux Marais (heel links) saam met die junior mans-afdeling wenners van die veldwedren, almal van die Eden-fietsryspan. Van links is Conrad Holm (tweede), Divan Terblanche (eerste) en Sebastian Swart (derde). Foto: Stefan Goosen
Die uitslae het so gelyk (van derde tot eerste):
- o. 11-seuns - RJ van Lill (enigste deelnemer)
- o. 13-meisies (Nippers) - Fait Faro, Alani Ferreira en Leoné Theron
- o. 13-seuns (Nippers) - Willen du Randt, Siphosihle Lucas en Jandré van Lill
- o. 15-meisies (Sprogs) - Marelize Jantjies, Emma Swart en Ella Barnard
- o. 15-seuns (Sprogs) - Henri du Plessis, Dionelle Ewerts en Tiaan Ferreira
- o. 17-meisies (Youth women) - Devinique Cleophas, Hannie Vreken en Mianette Theron
- o. 17-seuns (Youth men) - Vaughan Block, Daniel le Roux en Morgan Jones
- Junior vroue - Emogene Prinsloo (enigste deelnemer)
- Junior mans - Sebastian Swart, Conrad Holm en Divan Terblanche.
Sonja Schultz het namens Eden-fietsry al die spanne en provinsies bedank wat aan die jeugfees deelgeneem het.
"Ook 'n woord van waardering vir die Oudtshoorn-verkeersafdeling, departement kultuursake en sport, Fietsry Suid-Afrika, Eden-fietsry, nooddienste sowel as Fietsry Suid-Afrika se beamptes. Hierdie geleentheid sou nie moontlik of so suksesvol gewees het sonder hul bystand nie.
"Dan bedank ons ook die minister van kultuursake en sport, Anroux Marais, vir haar teenwoordigheid sowel as die burgemeester van Oudtshoorn Chris Mcpherson en Desmond Speelman, voorsitter van die Eden-sportraad, se ondersteuning."
Van links is Desmond Speelman (voorsitter Eden-sportraad), Anroux Marais (Wes-Kaapse minister kultuursake en sport) en Corné Bence op die RedRock Raceway buite Oudtshoorn waar die veldwedren plaasgevind het. Foto: Stefan Goosen
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’