Gallery
GRAAFF-REINET NUUS - Soos 'n klomp rooimiere krioel die Gideonsbende van so tienstuks op hul fietse deur Graaff-Reinet se strate.
Heel gepas het Gideon van der Mescht, bekende laerskoolonderwyser van Laer Volkskool, hulle na die straatvalke herdoop.
Dis veral in Stockenstroomstraat waar hulle die hoogste sweef, ouers laat naels kou en omstanders na hul asems laat snak met hul waaghalsige toertjies.
Toe die Covid-19-pandemie gedreig het om hul fietsrymanewales in die wiele te ry, het die klomp by hul hoofkantoor in Stockenstroomstraat 110 besluit om 'n hindernisbaan op die sypaadjie voor die Keysers se huis te bou. En toe kon hulle na hartelus baljaar, swaartekrag uitdaag en die Covid-inperkingsmaatreëls 'n punt of twee wys.
Kyk hoe sweef dié straatvalke. Van links: Ben Lemke, Xander Keyser, Erik Swanepoel, Frederick de Klerk en Kian Keyser.
Die grond vir die hindernisbaan is op die Keyser-erf uitgegrawe. Helane Keyser sê die gat is al amper groot genoeg om met Kimberley se Groot Gat mee te ding. Tong-in-die-kies sê sy hulle oorweeg dit nou om 'n wynkelder in die gat te bou.
Intussen vlieg die straatvalke steeds hoog in die lug met nog geen ernstige ongevalle om aan te meld nie.
Hugo Redelinghuys het die fietsrykaskenades op 'n laatmiddag met sy kamera gaan vasvang.
Aiden Marais
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'