Gallery
GRAAFF-REINET NUUS — Daar was talle opgewonde en opgehelderde gesiggies te bespeur toe die leerders van die Weppie Preppie-kleuterskool aan die skool se jaarlikse atletiekbyeenkoms by Laer Volkskool deelgeneem het.
Voor die pret van die dag begin het, het die onderwysers en leerders in oranje, groen, blou, rooi en geel hempies - die kleure van hul onderskeie klasse - 'n optog gehou waartydens die skool se kreet luidrugtig uitgeskree is.
Hierna het die leerders aan verskeie aktiwiteite soos naellope, gewigstoot, aflos, hekkies en hoogspring deelgeneem terwyl ouers en ander familielede toegekyk en heerlik saamgekuier het.
Die entoesiasme van die ouers en kinders het vir 'n heerlike atmosfeer en gees gesorg.
Die skool se ouers het gesorg dat haar hope lekkernye en koeldranke was om honger magies te vul en energie vir die bedrywighede te verskaf en tussen deur al die harde atletiekitems kon leerlinge hulself met 'n vetkoek, koeldrank of ander lekkernye wat te koop aangebied was, bederf.
Aan die einde van die prettige dag is elke atleet persoonlik met 'n klein geskenkie geluk gewens.
Karin van Wyk, skoolhoof, bedank graag die borge, ouers en ondersteuners wat hulp verleen het om van die geleentheid 'n groot sukses te maak.
Na afloop van al die verrigting is die kleuters met 'n glimlag en 'n moeë lyf huis toe.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'