Gallery
GRAAFF-REINET — Die tyd het weer aangebreek vir die twee hoërskole in Kroovale op Graaff-Reinet om kragte te meet tydens die jaarlikse interskole sport-wedstryde.
Hoërskool Asherville is opgewonde oor die uitdagings wat op die rugbyveld voorlê.
Dié skool se kaptein vir hul rugby se eerste span, Heinrich Oliphant het aan die Advertiser gesê die lang wag is verby. “Die afgelope tyd het die senuwees geknaag en het ons gedagtes warrelwind idees van die harde spel geword.”
“Uiteindelik het die groot oomblik aangebreek waarvoor vriend en vyand gewag het, die uitdaging waar selfs weddenskappe aangegaan word: ‘wie wen hierdie jaar?” het Oliphant gevra.
Hy is ook van mening dat hierdie kompetisie as 'n manier gebruik kan word om mense te verenig en om jongmense te wys dat gesonde kompetisie ook goeie verhoudinge in 'n span kan bou.
“Laat elke span hul beste gee en mag die goeie kameraadskap tussen ons as spelers die deurslag vir ons ondersteuners wees.”
Die skoolhoof, Jeffrey Grootboom sê vanjaar se interskole kragmeting bied ‘n geleentheid om weer bondgenootskappe te smee, brûe van gehalte en positiwiteit te bou en om ‘n gemeenskap in sy totaliteit te herenig.
Grootboom sê dit is dus met groot afwagting en ekstase dat almal uitsien na hierdie interskole kragmeting wat ‘n hoogtepunt op die sport-kalender is.
“Weke en nagte se noukeurige beplanning deur die reëlingskomitees van beide skole het nou ‘n realiteit geword.”
Hy sê Hoërskool Asherville streef daarna om hul sportverbintenis met Hoërskool Spandau voort te sit, te verstewig en dat die twee skole nie net op sportgebied brûe sal bou nie, maar in alle sfere idees sal uitruil om leerders sowel as die gemeenskap te verryk.
“Sorg dat jy fisies en sielkundig goed voorberei is, kompeteer so goed as wat jou Godgegewe talente jou toelaat, neem deel volgens die reëls wat daar is en moet nooit jou waardigheid prysgee nie,” is Grootboom se boodskap aan beide skole.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'