JANSENVILLE NUSU - Jansenvillers is hard aan die werk om Saterdag, 7 September, se jaarlikse Angora Mountain Bike Classic weer 'n sukses te maak.
"Ons is in die pylvak," het projekbestuurder Leoné Mulder gesê.
Vanjaar is die 11de keer wat die renne aangebied word. Verlede jaar is 'n bykomende 140km-ren uitgelê.
"Hierdie roete is uniek want dit gaan deur vier landbou-distrikte. Die wegspring is in Jansenville, dan deur Graaff-Reinet, Aberdeen, Klipplaat en terug na Jansenville se krieketveld," het Mulder verduidelik. "Op die roete beleef fietsryers al die boerdery aspekte van die Karoo."
Die wegspringtyd vir die 140 km is 6vm.
Die 60 km-roete, met die uitdagende afdraand met die hele Jansenville-distrik onder jou oë, sal beslis die adrenalienvlakke toets.
Gesinspret sal verseker word in die familie-vriendelike 25 km-roete.
Die hardloop- of pretstaproetes is 'n 21,1 km-halfmarathon sirkelroete, en 'n 10- en 5 km langs die rivier.
Uitstekende pryse en prysgeld is op die spel, waaronder 'n GT Avalanche bergfiets en ses weeklange vakansies. Daar is ook twee hoenderprodukte geskenkpakke vir die eerste vroue op die 140 km en 60 km-roetes. Die plaaslike hoenderboer borg ook 'n ondersteunerswaterpunt waar produkte, drankies en musiek op die huis sal wees.
Algoa FM se hit mobile sal die dag as aankondiger en seremoniemeester optree. Daar sal ook elke uur oorgeskakel word vir 'n lewendige uitsending.
'n Groot verskeidenheid stalletjies maak Vrydag om 6nm oop.
Daar is ook lewendige vermaak die Vrydag en Saterdag. Saterdagaand word 'n paar Karoo-lammers op die spit gebraai vir 'n ordentlike afsluiting. Die nie-winsgewende organisasies wat hieruit baat is Huis Welverdiend, 'n tehuis vir bejaardes, Whitlock's Care Centre, 'n tehuis vir gestremdes, die NG Kerk en die Metodiste Kerk.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'