GRAAFF-REINET NUUS - Dis nie aldag wat drie van Suid-Afrika se beste vrouehokkiespelers na Graaff-Reinet reis om afrigtingsklinieke hier aan te bied nie.
Met die Covid-19-pandemie wat sport erg aan bande gelê het, het die Karoo-hokkieklub besluit om twee klinieke vir junior en senior skolespelers aan te bied om die spelers se selfvertroue, vaardighede en liefde vir hokkie weer nuwe woema te gee.
Die drie vroue wat genooi is om met spesialisafrigting te kom help, was Cornelle Holtzhausen, 'n spesialis middelveldaanvaller vir die SA o.21- en Protea-span, Jonelke Swanepoel, 'n spesialis verdediger vir die SA o.21-span en lid van die senior Protea-oefengroep, sowel as Antonet Louw, 'n spesialis aanvaller/doelskieter, ook vir die SA o.21-span en lid van die senior Protea-oefengroep.
Die senior hokkiefees vir 13 tot 18-jariges is op Union High se astrobaan aangebied en daar is hoofsaaklik op gespesialiseerde vaardigheidsessies gekonsentreer met wedstryde agterna.
Die junior kliniek vir 4 tot 13-jariges is ook by Union se astro aangebied, maar daar is hoofsaaklik klem gelê op tegniek en om 'n liefde vir die spel aan te kweek.
Ina Botha, hoofafrigter van die Karoo-hokkieklub, sê hulle sien uit daarna om weer volstoom aan die Karoo-kinders se vernuf en vaardighede te werk. "Om dit saam met drie tophokkiespelers te doen, was voorwaar 'n voorreg wat vorentoe nog groot dividende kan oplewer."
Cornelle Hotzhausen
Jonelke Swanepoel
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'