GRAAFF-REINET NUUS — Die program vir volgende week se Interskole-kragmeting tussen Volkskool en die Union skole is Woensdag bekend gemaak.
Die verrigtinge sal reeds Maandag, 1 Augustus, afskop met die hoërskool skietspanne wat mekaar om 2nm by Hoër Volkskool se skietbaan die stryd aansê.
Die O.10 seuns en dogter-tennisspanne sal ook om 2nm dié dag hul wedstryde op Laer Volkskool se bane speel waarna die skaak-kompetisie in aanvang sal neem met die Graad 1 tot 4 spelers wat om 4.30nm in Hoër Volkskool se saal sal begin, gevolg deur die hoërskool spelers om 6.30nm.
DINSDAG
Op Dinsdag, 2 Augustus, sal daar baie aksie op die tennisbane bespeur wees, met die eerste en tweede junior seuns-tennisspanne wat om 2nm by Hoër Volkskool begin speel en die eerste en tweede junior meisie-tennisspanne wat terselftertyd op Laer Volkskool se bane sal speel.
WOENSDAG
Op Woensdag, 3 Augustus, skop die golf op die Graaff-Reinet Gholbaan af met die vasvra, debat en redenaars tussen die hoërskool leerders wat by Hoër Volkskool se saal om 6nm gehou word.
VRYDAG
Op Vrydag, 5 Augustus, skop Interskole naweek amptelik af en kan sportliefhebbers van 11vm die oggend reeds na die aanskoulike tenniswedstryde tussen die eerste en tweede senior dogter-tennispanne by Union se Bremner-bane gaan kyk, terwyl die eerste en tweede senior seuns-tennisspanne by Hoër Volkskool se tennisbane die selfde tyd gekyk kan word.
Die derde senior dogter-tennisspan begin ook om 11vm te speel op Laer Volkskool se bane.
Op die hokkiebane begin die aksie ook vroegoggend met die kleuterskole se skattige Cupcakes en Candyfloss spanne wat om 10.30vm by Hoër Volkskool se hokkiebaan gaan begin speel.
Die wedstryd word gevolg met O.8A-spanne se wedstryd om 12nm, die O.9A-spanne se wedstryd om 12.30nm en die O.10A-spanne se wedstryd om 1nm.
Die junior tweedespanne speel dan om 2nm ook op die HVS-hokkiebaan teen mekaar, gevolg deur die wedstryd tussen die junior eerste spanne om 3nm en die wedstryd tussen die senior derde spanne om 4nm.
Ook, op Vrydag, sal die rugbykragmetings vroegdag afskop met die wedstryd van die Union Pre School en Weppie Preppie se Batman en Spiderman spanne op die HVS A-veld om 11vm.
Die O.7Bs sal om 11.30vm volg, die O.7As om 12nm, die O.9Bs om 12.30nm, die O.11Bs om 1.10nm, die O.9As om 1.55nm, die O.13Bs om 2.45nm en die O.15Bs om 4nm. Al dié wedstryde vind plaas op HVS se A-veld.
SATERDAG
Saterdagoggend, 6 Augustus, sal die ondersteuners seker soos oudergewoonte reeds van dou voor dag af langs die hokkievelde begin saamdrom om die spanne te ondersteun.
Om 8vm die oggend skop die aksie af met die O.16B-spanne wat mekaar takel op die HVS-veld gevolg deur die skole se tweede spanne om 8.50vm. Die O.16A-spanne sal om 10vm op Union se Astro mekaar die stryd aansê gevolg deur die Union en Volkskool eerstespanne om 11.15vm - ook op die Union Astro.
Die dag se rugbywedstryde begin om 8.20vm by die Botanies met die O.11A-spanne wat mekaar eerste pak, gevolg deur die O.13As om 9.05vm, die O.14As om 10.05vm, die O.15As om 12.20nm, die O.16A's om 1.20nm en die tweede spanne om 2.20nm.
Om die week se sportaktiwiteite te kroon sal die Union en Volkskool eerste rugbyspanne mekaar dan om 4nm by Botanies in 'n uiters opwindende stryd aanpak.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'