WES-KAAP NUUS - Die Eden-sportraad en die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport (DKES) vereer jaarlikse sportpersone wat hulle lewe aan sport gewy het.
Baie van dié legendes het nooit die hoogste sport bereik nie, maar het hulle onderskei met hul liefde, passie, die ontwikkeling en talentidentifikasie van hul onderskeie sportsoorte en meesal 'n opdraande stryd om borge te bekom.
Van hulle was tegelyk spanbestuurders, afrigters en ook busbestuurders - alles in een.
En baie het hul karige inkomste gebruik om die sport aan die gang te hou, soms tot nadeel van hul eie gesinne.
Dié legendes het die fondasies van verskeie sportkodes, -klubs en sportfederasies gelê.
Maar baie van die legendes het in vergetelheid verval en van hulle is, om verskeie redes, uitgestoot.
Die Eden-sportraad wil graag erkenning aan die legendes van weleer gee en versoek die publiek om te help om hulle te identifiseer.
Die Eden-sportraad en DKES gaan vanjaar weer nominasies vir legendes aanvra.
Die name sal in die media aangekondig word.
Sportfederasies en individue word versoek om name deur te gee aan die Eden-sportraad.
Die kriteria is:
- Persone wat 'n beduidende bydrae tot sport in hulle leeftyd gelewer het, verkieslik ouer as 55 jaar en verkieslik ook afgetree;
- Persone wat as ikone in hulle gemeenskappe beskou word;
- Persone wat 'n rol gespeel het in die ontwikkeling van sport voor 1992;
- Persone wat voorheen nog nie erkenning gekry het nie as gevolg van hulle geslag, ras en weens hul geografiese gebied dalk uitgesluit was.
Vir meer inligting of die deurgee van name kan Dave van der Walt by 082 773 4901 of sportcouncil.eden@gmail.com gekontak word.