SUID-KAAP NUUS - Netbalspelers van Eden het 'n groot bydrae gelewer in die Wes-Kaap se sege by Spar se nasionale netbaltoernooi in Durban.
Die Wes-Kaap, met vier Eden-spelers in sy midde, het die Vrystaat in die eindstryd van die nasionale toernooi met 50-35 geklop om as Suid-Afrikaanse kampioen gekroon te word.
Met dié oorwinning het die Wes-Kaap 'n goue medalje in die A-afdeling gebuit en silwer in die B-afdeling verwerf. KZN B het die Wes-Kaapse B-span in die eindstryd met 43-42 getroef.
Die vier Eden-netbalspelers wat deel was van Wes-Kaap is Roche de Reuck (Wes-Kaap A), Annemie Koen, kaptein van Wes-Kaap B, Natasha Schmidt en Melinda Baartman, ook albei Wes-Kaap B.
Nog 'n pluimpie vir Eden-netbal is dat Natasha Schmidt haar SA B-skeidsregtersgradering geslaag het.
Die Wes-Kaap A-Span is die SPAR Nasionale Netbal Kampioene 2016. Eden Netbal is werklik trots op hierdie plaaslike talentvolle spelers en wens hulle geluk met hul prestasies en sterkte toe met hul toekomsplanne vorentoe.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'