SUID-KAAP NUUS - Die streek se Driekamp Federasie het amptelik Woensdag 7 Junie tot stand gekom.
Dit is die 51ste sportfederasie van die Eden Sportraad. Hierdie stigting struktureer nou die beheer en organisasie van driekamp in die distrik.
Die Eden distrik se jurisdiksie dek die munisipaliteite van George, Mosselbaai, Oudtshoorn, Knysna, Hessequa, Kannaland en Bitou. Driekamp regoor Suid-Afrika groei geweldig en dit is geen uitsondering in dié distrik nie.
Tydens die stigtingsvergadering wat deur die sportraad gefasiliteer is, is die konsepgrondwet eenparig aanvaar en is die volgende interim bestuur verkies wat die reëlings vir die algemene jaarvergadering van 31 Julie om 18:00 by Laerskool George-Suid sal bestuur: JC Visser, Gerhard Liebenberg, Franna Vorster, Hanno Maritz (interim voorsitter), Johann du Preez, Sas du Plessis en Saskia Rademacher-Harris.
Persone wat belangstel om aan driekamp (fietsry, swem en hardloop) deel te neem, kan hulle met Liebenberg by gerhard@glprok.co.za of Hanno Maritz by 076 730 3225 hmaritz71@gmail.com in aanraking kom.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus'