COLESBERG NUUS — Reëlings en nogmaals reëlings!
Maar wat ‘n uitstekende advertensie was die 2016 Y2Karoo bergfietswedren nie vir die Hoërskool Colesberg asook Colesberg dorp self nie.
Hierdie breinkind van Keith Wilson het alle mense en nie net die deelnemers nie, aan die praat. Die spoggeleentheid het reeds Vrydag afgeskop met ‘n 25km wedren. Saterdag was dit ‘n allemintige 72km wedren, waarna dit Sondag afgesluit was met ‘n 74km wedren.
Wat dit merkwaardig maak is dat waar daar die vorige jaar 172 inskrywings was, het dit gegroei tot 240 deelnemers. Deelnemers het van regoor die land gekom. Van Kaapstad, Durban, Upington en vele ander plekke. Volledige uitslae van die verskillende kompetisies kan by www.fscycling.co.za/Y2k nageslaan word.
Dit is baie duidelik dat hierdie byeenkoms van krag tot krag gaan. Die gesellige saamwees na die wedrenne het verskeie nuwe vriendskappe saamgesnoer. Die bekende vierkant van die Hoërskool was van hoek tot kant gevul met besoekers.
Daar was selfs ‘n fietsherstelkamer asook ‘n “bike wash” diens. Mediese personeel was ook op hul pos. Koffie/kosstalletjies het ook gesorg dat daar te alle tye iets was om te drink en te peusel. Genadiglik het die uiterste koue van die afgelope week gewyk en is die naweek gekenmerk deur aangename weersomstandighede.
Alle persone wat betrokke was, verdien lof vir die wyse waarop die geleentheid hanteer was. Dankie aan al die borge wat dit moontlik gemaak het om die naweek te befonds.
Ook dankie aan al die deelnemers, want sonder hul deelname was dit nie so ‘n groot sukses nie.
Die inkomste gegenereer uit die Y2Karoo bergfiets-naweek is ten bate van die Hoërskool Colesberg.
'Ons bring jou die nuutste Colesberg, Karoo nuus'