JANSENVILLE NUUS — Daar heers alreeds groot belangstelling vir die tweede Angora MTB Classic wat op Saterdag, 3 September, op Jansenville aangebied word.
Met SAMIL as hoofborg en 31 ander borge beloof die byeenkoms groot pryse en prysgeld aan die deelnemers. Dit lok reeds inskrywings sover as Bloemfontein en Kaapstad.
ROETES
Die fietsry roetes strek oor 65km en 25km. Dit strek oor een van die mooiste en interessantste, skouspelagtige dele van die distrik.
‘n Deel daarvan is langs die Sondagsrivier met pragtige landerye en verander na bergagtige deel met unieke plante en wild.
Volgens fietsryers wat dit reeds gedoen het is dit uniek en dele daarvan uitdagend. Dis ‘n perfekte roete vir bergfietsryers aan die begin van die seisoen. Daar word ook 'n 21km, 10km en 5km hardloop/stap aangebied oor soortgelyke unieke roetes in die natuur.
PROGRAM
Die byeenkoms sal om 8vm in aanvang neem vanaf die Krieketveld op die dorp.
Die fietsryers sowel as stappers/drawwers sal hier begin en eindig. Daar is baie vermaak vir diegene wat wag vir die deelnemers om klaar te maak.
Kosstalletjies onder andere spitbraai die Vrydagaand, ontbyt, braaivleis vir Saterdag middag, sal die innerlike versterk.
Verskeie stalletjies waaronder bokhaarprodukte en tuisgemaakte artikels en lekkernye sal te koop wees. Vir die jong span sal daar ‘n springkasteel, “treasure island", trampoline, gesigverf en skyfskiet wees om hulle besig te hou.
Daar sal ook toesig oor die kinders gehou word terwyl die ouers trap of draf. Daar sal hansies wees wat die kindertjies kan melk gee uit ‘n bottel.
GASKUNSTENAARS
Justin Jay, Lizanne, Tertius en Gerhard Pace sal deurlopend die toeskouers vermaak. Tydens die spitbraai Vrydagaand sal daar ook karaoke wees en sal van die kunstenaars optree.
Dié geleentheid is verlede jaar vir die eerste keer gehou en daar was groot lof vir die professionele wyse waarop dit aangebied is.
Deelnemers het te kenne gegee dat dit die beste gemerkte roete was waarop hulle nog deelgeneem het.
Die Angora MTB Classic word aangebied deur Huis Welverdiend, die NG Kerk en plaaslike toerisme vereniging
Vir verdere navrae kan Leoné Mulder by 083 663 3002 gekontak word.
'Ons bring jou die nuuste Jansenville, Karoo nuus'