SUID-KAAP NUUS - 'n Heel nuwe wyse van bergfietsren is gedagboek om by die Oudtshoorn-ovaalbaan en die George-sportterrein plaas te vind.
Die Hybrid Track Racing sal in Julie drie keer plaasvind, met die eerste wedren op 15 Julie by die George-sportterrein. Op 22 en 29 Julie vind dit op die Oudtshoorn-ovaalbaan plaas.
Corné Botha van Jakhals Events, wat die wedrenne organiseer, sê: "Hierdie is iets heeltemal nuut. Dis baie veilig, vriendelik vir toeskouers en waarborg baie opwinding.
"Aan die einde van die reeks is pragtige trofeë vir kategorie-wenners op die spel. Almal wat die reeks voltooi gaan ook spesiale medaljes ontvang."
Botha vertel daar sal by elke wedren groot vure wees en mense kan braaipakke koop. Daar sal ook kroegfasiliteite en DSTV wees. Op Vrydag 16 Junie kan almal wat wil sien waaroor dit gaan 'n draai maak by die Oudtshoorn-ovaalbaan en ook gratis die kans kry om tussen 12:00 en 13:00 op die baan te ry.
"Slegs bergfietse mag gebruik word. Geen ander fietse, soos pad- of Cyclo Cross-fietse sal toegelaat word in die reeks nie."
Inskrywingsfooi is as volg:
o.17: R300 vir die reeks, of R100 per dag.
Juniors tot veterane 50+: R450 vir die reeks, of R150 per dag.
Registrasie en inskrywings kan op die dag van die wedrenne vanaf 12:30 gedoen word en die wedrenne begin om 14:00.
Die prysuitdeling vind op 29 Julie om 18:00 by Eden-fietsry se klubhuis langs die Oudtshoorn-ovaalbaan plaas. Sien Jakhals Events se Facebook-blad vir meer inligting, of skakel Corné Botha by 074 260 2871.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Graaff-Reinet, Hessequa nuus'