SPORTNUUS - 'n Oud-leerder van Hoër Volkskool, Jean-Louis du Plessis (20), het met sy voorgee van +4 onlangs aan die Camden Collegiate-toernooi in South Carolina deelgeneem. Hy het dié toernooi 70 - 67 - 70 (-3) gewen en toe ook die Spring Bulldog Bash-toernooi in Athens, Alabama met 66 - 72 - 69 (-9) ingepalm.
Sy stiefpa het hom op negejarige ouderdom aan gholf voorgestel. Du Plessis se eerste groot oorwinning was in 2020 toe hy die Oos-Kaapse amateurtoernooi in Uitenhage gewen het.
Hy vertel dat gholf hom al regoor die land geneem het en was hy die afgelope jaar bevoorreg om ook in Amerika te speel waar hy studeer. Hy beplan om by Shorter University in Georgia sy vier-jaar graad te voltooi en deurgaans gholf vir die universiteit te speel.
"My gunsteling stok wissel maar van dag tot dag, en hopelik sal ek eendag goed genoeg wees om te kan sê dat almal my gunsteling is." Sy gunsteling baan sover is die St Francis Links, maar sê hy dat Graaff-Reinet-gholfbaan natuurlik altyd na aan sy hart sal wees - dit is immers waar hy sy liefde vir die sport ontwikkel het.
Die speler Louis Oosthuizen is van jongs af Du Plessis se gunsteling en sê hy dat hy nog altyd soos Oosthuizen wou swaai.
Of hy raad vir jong geesdriftige gholfspelers het, sê hy dat jy jou droom en passie vir die sport moet volg. "Dit sal jou motiveer om hard te werk sodat jy die beste in jou eie vermoë kan bereik. Die belangrikste is om aan te hou glo deur die moeiliker tye. In gholf, soos enige ander sport, kan jy baie maklik vertroue in jouself verloor. Maar sodra jy aanhou glo en jou fokus rig op dit wat jy wil bereik, sal jy 'n manier kry om weer bo uit te kom."
Vir Du Plessis is daar net een sport - gholf - en sy groot droom is om by die Augusta National teen die bestes in die wêreld mee te ding.
Jean-Louis du Plessis
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’