Gallery
GRAAFF-REINET NUUS - Die klubkrieketseisoen skop Donderdag nie-amptelik af met die aanbied van die jaarlikse Botanics T20-toernooi.
Twaalf spanne uit die Wes- en Oos-Kaap gaan deelneem en die wenspan sal Sondag in die eindstryd gekroon word en met 'n kontantprys van R5 000 wegstap.
Die wedstryde op Donderdag begin om 14:00, maar op Vrydag en Saterdag begin spel om 09:00. Benewens die wedstryde op Botanies word daar ook by Union High (Puttick- en Murray-velde), Hoër Volkskool, Santa Sanna en die Fred Hufkie Oval meegeding.
In 'n opwarmingswedstryd verlede Vrydagaand het Botanics vir Stallions met 23 lopies geklop.
Fotogalery: Jjaarlikse Botanics T20-toernooi
Francois du Plessis (*87) en Jason Vers (*42) het 'n onoorwonne vennootskap van 130 lopies geslaan en die Stallion-boulers behoorlik gekasty. Veral Du Plessis was verwoestend en het die bal 'n paar keer oor die pawiljoen se dak gelig.
Benjamin September (Stallions) kom ingestoom.
Verskeie verbroude vangskote het hom 'n paar lewens gegun, maar hy het uiteindelik teen die einde van die beurt die bal na alle uithoeke van die grenstou gejaag.
Botanics het 150/1 in sy toegelate 20 boulbeurtte aangeteken waarna Stallions almal vir 120 lopies uitgeknikker is. Vir Stallions het Jean-Pierre Phillips (43) flink gekolf.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'